Staatsvoogdyskap van grond, die afsnydatum vir restitusie-eise en die rol van howe oor vergoeding is kwessies waaroor die ANC en die EFF konsensus moet bereik in die ad hoc-komitee oor wysigings aan artikel 25 van die Grondwet.

Dié komitee het onlangs versoek dat sy sperdatum met 30 dae verleng word. Volgens Netwerk24 het die komitee nou tot einde Augustus om sy werk af te handel.

Steyn sê weens die gebrek aan ’n verifieerbare databasis vir grondrestitusie, is daar tans 30 aansoekers wat wag vir grond om aan hulle oorgedra te word.

“Die staat kan nie die proses rondom grondrestitusie-aansoeke spoedig afhandel nie aangesien dit nie die aansoeke onafhanklik kan verifieer nie. Dit laat aansoekers jare wag sonder hoop dat hul aansoek ooit afgehandel sal word. Hierdie onafgehandelde aansoeke verteenwoordig die eienaars van minstens 1,2 miljoen ha grond wat nog oorgedra moet word.”

Steyn sê die DA sal binnekort die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se hoofkantoor in Pretoria besoek om vas te stel of die regering ’n funksionele databasis vir grondhervorming het en ander belangrike grondhervorming kwessies te bespreek.

“Wat veral kommerwekkend is, is korrupte amptenare in die departement en skelm elemente in die betrokke gemeenskappe wat die chaos in die departement uitbuit en probeer om wettige aansoekers van hul grond te ontneem.”

Sy sê die spesiale ondersoekeenheid het vanjaar tydens ’n ondersoek bevind dat korrupte amptenare by die departement met glyjakkalse saamgesweer het om valse grondeise in te dien. Dit het tot vooruitbetalings, subsidies en vergoeding vir die valse eise gelei. Verskeie van dié gevalle is vir verdere ondersoek na die nasionale vervolgingsgesag verwys.

“Weens gevalle van blatante korrupsie en die chaos met die departement se gronddatabasis is daar bakleiery in gemeenskappe. ’n Voorbeeld hiervan is Isizwe Sakwa Dludla-gemeenskapstrust in KwaZulu-Natal, waar die departement iemand aangestel het om grond namens die gemeenskap te bestuur pleks daarvan om grondeise af te handel.

“Dit is duidelik dat die staat grond op sy naam geregistreer wil hou pleks daarvan om dit aan gemeenskappe te oorhandig. Die ANC-regering wil hê Suid-Afrikaners moet permanente huurders van die staat bly. Dit is presies hoekom die DA ’n besliste standpunt teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet ingeneem het. Dit sal mense se reg tot die eienaarskap van private grond vertrap.”