Me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, sê die DA versoek Ramaphosa om dringend op te tree oor die voortdurende vrees en gevaar waarin Suid-Afrikaners op die platteland woon.

Die publiek word versoek om ook dié brief te onderteken. Sodra die DA die nodige handtekeninge versamel het, sal die party dit aan die parlement voorlê om verdere optrede van die ANC-regering te eis.

Sy sê die regering en die parlement kan nie aanhou om die nood van boere en plaaswerkers wat gemartel en vermoor word, te ignoreer nie.“ ’n 80-jarige vrou is onlangs op haar plaas in Zastron aangeval. Sy moes luister terwyl haar aanvallers planne beraam het om haar dood te maak. Een van haar aanvallers was na bewering een van die 19 000 gevangenes wat vrygelaat is in die minister van korrektiewe dienste, mnr. Ronald Lamola, se poging om die verspreiding van Covid-19 in tronke stop te sit.

“Ondanks die herhaaldelike versekering van die minister en die president dat slegs lae-risiko-oortreders vrygelaat sou word, is blykbaar nie genoeg gedoen om die publiek van gewelddadige misdadigers te beskerm nie.”

Kohler Barnard sê plaasaanvalle is een van die simptome van ’n siek regering. “Korrupsie, gierigheid en magsug het die diensmandaat vervang. Dit lyk asof politici vergeet dat hulle in posisies van mag en invloed geplaas word om die landsburgers te dien.”

Die webwerf kan by www.stopplaasaanvalle.co.za of www.stopfarmattacks.co.za besoek word.