Me. Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, sê sedert die DA ’n debat van nasionale belangrikheid oor dié kwessie in die parlemênt versoek het, was daar nog geen aanduiding van die regering dat dit aandag geniet nie. “Dit is ongelukkig nie eienaardig van ons regering om boere te loof wanneer die regering hulle nodig het en dan geen hulp te bied wanneer die boeregemeenskap ’n krisis beleef nie.”

Sy sê dit is asof boere en plaaswerkers nie as volwaardige mense geag word nie. “Hulle word benodig om voedselsekerheid te verseker, maar hulle moet hul probleme self oplos.”

Sy sê volgens die Afrika-sentrum vir voedselsekerheid dra voedselonsekerheid by tot die skielike en drastiese toename in misdaad in landelike gebiede. Miljoene arm Suid-Afrikaners is wanhopig weens die voortsetting van die inperking en die ondeurdagte regulasies wat tot ’n tekort aan kos in sommige gebiede gelei het.

Volgens TLU SA se statistieke was daar 20 aanvalle en geen moorde in Januarie vanjaar, 29 aanvalle en sewe moorde in Februarie, 22 aanvalle en sewe moorde in Maart, 10 aanvalle en een moord in April, en 17 aanvalle en vier moorde in Mei.

Kohler-Barnard sê die meeste Suid-Afrikaners, ongeag hul maatskaplik-ekonomiese omstandighede, voel nie veilig in hul eie huise nie. “Gewelddadige misdade is algemeen, maar min misdade kry so ’n patetiese reaksie van die regering af soos plaasaanvalle. Die slagoffers van hierdie misdade word dikwels gemartel. Die meeste van hulle is gelukkig om met hul lewens te kan ontkom. Tog sê ons regering niks daaroor nie.”

Die DA het verlede week aangekondig dat hy verskeie stappe teen plaasaanvalle gaan doen. Die party het onder meer onderneem om plaasaanvalle as haatmisdade aan te meld en landbou-unies met hul patrollies by te staan.

“Die regering moes lankal ernstig aandag aan hierdie plaag (van geweld) gegee het. Dit sal nie eenvoudig verdwyn omdat die regering die lot van landelike gemeenskappe en diegene wat op plase woon, ignoreer nie.”

Misdaad buite beheer

Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, sê die organisasie beveel al baie jare aan dat boere hul wapens dra, weet hoe dit werk en dit gebruik om hul eie, familie en werkers se lewens te beskerm binne die raamwerk van die wet.

“As ons in ag neem die erge marteling en brutaliteit of gepaardgaande moorde, soms net vir n selfoon en ’n paar rand, kan ons nie anders as om boere steeds te adviseer om voort te gaan met die praktyk nie. Dit alles om te keer dat boere deel word van die tragiese statistiek.

Hy sê misdaad in Suid-Afrika is buite beheer, spesifiek plaasaanvalle en -moorde, maar ook al die ander moorde op ander Suid-Afrikaners. “As die regering van die dag die veiligheid van sy land se inwoners nie wil verseker nie, dan sal boere dit self doen.”

Byna een aanval per dag

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê die wreedaardige en sinlose plaasaanvalle die afgelope maand het verskeie landelike gemeenskappe ingrypend geraak. “Daar was gedurende Junie vanjaar reeds 27 plaasaanvalle op plase en kleinhoewes, bykans een elke dag. Tydens die plaasaanvalle is verskeie plaasaanvallers doodgeskiet toe slagoffers hulle teen die aanvallers beskerm het.”

Hy sê Agri SA is bekommerd oor die landelike misdaadsituasie en veroordeel die aanvalle op boerderygemeenskappe en misdaad teenoor gewone landsburgers ten sterkste. “Landboumisdaad raak nie net die nasionale belang nie, maar die landbou se belang in voedselproduksie en sy rol in landelike stabiliteit en die landelike ekonomie.

“Die land verkeer in een van die moeilikste ekonomiese situasies en daarmee saam ervaar die landbou ’n landbou-onvriendelike regering en beleidsonsekerheid. Dit bedreig die strategiese belang van die landbou en skep nie vertroue nie. Onsekerheid en toenemende landelike misdaad dra nie by om ’n omgewing daar te stel vir die landbou om te presteer en by te dra tot ekonomiese ontwikkeling nie.

“In dié omstandighede raak dit moeilik om lede en plaaswerkers se gemoedere te kalmeer wanneer hulle aandring op hul reg tot veiligheid. Agri SA maan egter die boerderygemeenskap tot verantwoordelike optrede en om die polisie verantwoordelik te hou om sy grondwetlike plig om alle landsburgers te beskerm, na te kom.”

Hy sê die regering moet met polisiëringsmodelle vorendag kom om landelike misdaad doeltreffend aan te pak aangesien “die boerderygemeenskap se primêre verantwoordelikheid is om voedsel te produseer, nie om nog in die nag patrollies te ry om hom en sy eiendom te beskerm nie”.

Hy meen die wye voorkoms van plaasaanvalle kan nie met ’n enkelvoudige oplossing uitgeroei word nie. “Ons het ’n regering nodig wat nie vyandig staan teenoor die landbou nie en die politieke wil het om ongewilde besluite te neem tot voordeel van die landbou, landelike beveiliging en voedselsekerheid. Dit sluit in die wil om die waardestelsel sodanig aan te pas dat almal in die land veilig voel en waardeur landbou en werkskepping vorentoe geneem kan word.”