Daar is egter nooit ’n kontrakteur aangestel vir die bouwerk aan die wal nie en einde 2017, toe die reën kom, kon die dam net 60% van sy gewone kapasiteit hou.

“Ons het boere stroomaf in die Letabarivier toestemming gegee om hul reservoirs te vul sodat so min moontlik van daardie water verlore gegaan het,” sê mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging.

Daar is egter lig aan die einde van die tonnel, sê Kruger. Die departement van waterwese en sanitasie het onlangs een van sy eie spanne opdrag gegee om die bouwerk aan die wal te voltooi. “Dit is bekwame mense met die vermoë om so ’n projek aan te pak,” sê Kruger. Hy waarsku egter dat die staat se wiele stadig draai.

Die bouspan is tans besig met aankope en sal eers vroeg in 2020 met die bouwerk aan die wal kan begin. Die span beoog om teen Augustus 2021 klaar te wees, maar daar is altyd ’n moontlikheid dat dit langer kan duur.

Intussen gaan die gebied gebuk onder erge droogtetoestande. Die Tzaneendam word uit die Ebenezerdam aangevul om die watervlak bokant 10% te hou. As die damvlak tot onder 10% daal, mag daar nie water vir die landbou uitgelaat word nie.

Die departement van waterwese en sanitasie moedig boere glo aan om hul waterbehoeftes uit boorgate aan te vul waar hulle kan. Dit het egter ’n ongunstige impak op die Letabavallei se watertafel. Kruger sê ’n hidroloog het hom onlangs vertel dat dit minstens vier opeenvolgende goeie reënseisoene sal verg om die gebied se watertafel te kry waar dit moet wees. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.