Me. Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, het onlangs as gas van die twee organisasies op ’n boot in die Vaalrivier stroomaf gevaar, van Stonehaven on Vaal by Sasolburg tot by die Barrage. Vandaar het sy op ’n kleiner boot tot by Loch Vaal gevaar en op in die Rietspruit om die bronne van erge rioolbesoedeling te aanskou.

Sisulu het glo aan lede van die twee organisasies gesê die bootrit het die skille van haar oë laat afval. Sy was geskok om te sien hoe geil die giftige blou-groen alge op die rivieroppervlak groei, hoe swak die gehalte van die water is en hoeveel ongesuiwerde riool in die rivier is. By Loch Vaal was die riool so swaar in die rivier dat dit byna onbegaanbaar was met ’n boot.

Sy was vergesel deur die burgemeesters van Sedibeng en Emfuleni, verskeie munisipale raadslede en ’n verteenwoordiger van die maatskappy wat gekontrakteer is om die gemors in die Vaalrivier op te ruim.

Twee dae later het lede van die parlementêre portefeuljekomitee vir water, sanitasie en menslike nedersettings ook die rit van Barrage af tot in die Rietspruit onderneem, ook as gaste van die Goue-Driehoek-sakekamer en die SAVE.

Mnr. Michael Gaade van die SAVE sê die besoedeling spruit hoofsaaklik uit 44 rioolpompstasies en drie watersuiweringsaanlegte wat nie na behore funksioneer nie en ongesuiwerde riool in die rivier stort. Daar het ook talle informele nedersettings langs die rivier opgeskiet waarvoor daar geen munisipale dienste of sanitasie is nie.

Sisulu het glo gesê een van haar grootste probleme is dat die huidige infrastruktuur rondom die Vaalrivier ontoereikend is vir die toestroming van mense. Sy het onderneem om die kwessie met die kabinet op te neem, want daar sal vinnig dorpstigting met behoorlike dienste gedoen moet word om te voorkom dat die situasie homself herhaal nadat die rivier skoongemaak is.