Hoewel die Wes-Kaap se damvlakke in die laaste twee maande met gemiddeld 9,7% gestyg het, is damvlakke tans 22% laer as in dieselfde tydperk verlede jaar.

Volgens 'n verklaring van die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, is damvlakke tans op 27,3%. Die gemiddelde damvlakke was einde Mei op 17,6% en teen einde Julie 2016 op 50%.

Benarde situasie

Volgens mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het lae reënval die afgelope paar maande die situasie verder vererger.

“Ons het nie die reën gekry wat ons in Junie verwag het nie. In Julie het ons 'n gemiddelde hoeveelheid reën ontvang, terwyl ons bogemiddelde reën benodig. Terwyl ons in Augustus verdere verligting behoort te ontvang, is dit duidelik dat damvlakke baie sukkel om te herstel.”

Die kritieke aard van die droogte kan ook gesien word in sommige damme se vlakke teen einde Julie vanjaar, in vergelyking met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die Theewaterskloofdam is tans op 21,2% en was op 43% in 2016, terwyl die Voëlvleidam tans op 22,1% is in vergelyking met 45% verlede jaar. Die Clanwilliamdam het 'n massiewe daling in vlak ondervind, van 99,8% in 2016, tot 'n huidige vlak van 27,2%.