Agri SA maak daarop aanspraak dat hy 28 000 kommersiële boere en ’n verdere 100 000 ander belanghebbendes deur sy onderskeie bedryfsorganisasies bedien.

Dié organisasie het die afgelope tyd ingrypende herstrukturering ondergaan om dienslewering meer vaartbelyn te maak, met onder meer ’n kleiner direksie van 14 of 15 lede en ’n aantal nuwe administratiewe personeellede.

Hoe vaar Agri SA onder die nuwe bestuurstruktuur?

Dit is nog baie kort ná die verandering. Ons gaan op 5 Desember vir die eerste keer as ’n direksie byeenkom. Hierdie is ’n strategiese proses wat oor drie jaar kom. Eers was die strategie uitgewerk, en dit is gevolg deur ’n struktuur om die uitvoering daarvan te verseker.

Verandering bring sy eie nuwe dinamika. Elkeen moet sy kant bring en as daar groeipyne is, sal ons dit hanteer – ons het genoeg kundigheid. Daar is ’n goeie samewerkingsgesindheid tussen almal en as almal dit wil laat werk, sal dit werk.

Op die onlangse jaarlikse kongres het dit gelyk of daar ’n groot mate van eensgesindheid oor diÉ nuwe struktuur is. Is dit inderdaad so?

Ek glo dit is so, en moet my voorganger, mnr. Johannes Möller, krediet daarvoor gee. Verandering bring mos maar onsekerheid, en hy het vir ’n jaar lank baie moeite gedoen om aan almal wat vrae gehad het, antwoorde te gaan verskaf.

Jy moet ook onthou, dit kom al oor drie jaar. Dit is nie asof ons op een dag met ’n nuwe plan vorendag gekom het nie. Ons was uiters bedag daarop om inklusief te wees, en almal kon hul insette lewer. Daarom is die veranderinge sonder enige teenstem by die kongres aanvaar en dit is verblydend.

Verandering bring sy eie nuwe dinamika. Elkeen moet sy kant bring en as daar groeipyne is, sal ons dit hanteer – ons het genoeg kundigheid.

Wat is jou gevoel oor eenheid binne die georganiseerde landbou?

Ek wil my graag vir groter eenheid beywer. Ek sal graag met die leiers van die onderskeie organisasies wil ontmoet en hoor wat elkeen wil hê. Ons kan nie ’n klomp mense saam in een pot gooi as dit nie is wat hulle wil hê nie.

Afasa het verlede jaar tydens ’n gesprek gesê hulle is nog nie gereed vir volle eenheid nie, en ek respekteer dit. Die TLU SA het ook sy eie standpunte en ek respekteer dit. Só, die eerste stap sal wees om met almal te gesels en na hul sienings te luister. Só kan ons dalk nader aan mekaar beweeg.

En eenheid binne Agri SA self? Soms lyk dit of daar oor party kwessies verskillende kampe is.

Die beste kultuur wat ’n mens binne ’n organisasie kan skep, is een van robuuste debat. Mense moet gemaklik wees om te kan verskil en dit onder mekaar te debatteer. Ek verwelkom robuuste debat. Ons kan nie almal oor alles saamstem nie.

Binne die organisasie moet jy jou standpunte stel. Al ons provinsiale unies is ook outonoom en het hul eie standpunte. Daar is wat my betref nie ’n probleem met eenheid binne die organisasie nie. As mense gemaklik daarmee is om mekaar konstruktief te kritiseer, kan dit help om by die regte besluite uit te kom.

Mense moet gemaklik wees om te kan verskil en dit onder mekaar te debatteer.

Dit lyk of Agri SA ál meer klem daarop lê om eerder self dinge te doen as om net beleid te probeer beïnvloed.

Met verloop van tyd het dinge verander. Vat byvoorbeeld grondhervorming. Jy kan sê in die ou bedeling het ons net beleidsontwikkeling gedoen, maar nou wil ons deelneem aan die prosesse om grondhervorming te bespoedig.

As jy nie vandag inklim en die werk self gaan doen nie, soos ons bedryfsorganisasies wel doen, gaan niks gebeur nie. Ons bly in ’n wanfunksionele samelewing met ’n wanfunksionele Regering op verskeie vlakke. Ons moet albei kan doen: Die beleidsomgewing beïnvloed, en prakties betrokke raak.

Veiligheid is nóg ’n voorbeeld. Ons kan met die polisie praat en help met ’n veiligheidstrategie, maar as ons nie tot op grondvlak self dinge doen om ons te beveilig nie, bly ons kwesbaar. Ons doen die beleidwerk bo, maar is ook baie meer betrokke by implementering. Ons doen dit deur ons provinsiale strukture, bedryfsorganisasies en het ook ’n klompie uiters professionele mense in ons administrasie wat ons daarmee kan help.

’n Mens moet kies waarop jy wil fokus. As dit op die negatiewe dinge is, bied jy eintlik geen leierskap nie.

Wat is jou gevoel oor die onlangse Swart Maandag-protesbeweging?

Geen enkele organisasie kan krediet probeer toe-eien vir die organisering daarvan nie. Dit het spontaan op sosiale media ontstaan ná ’n video-opname van ’n boer mense se harte geroer het. Daar was ’n emosionele opwelling van grondvlak af.

Mense het hulself georganiseer en hul protes teen die onaanvaarbare vlakke van misdaad uitgespreek. Ek aanvaar glad nie die siening dat dit rassisties of polities gemotiveerd was nie. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit is 0,0001% van mense wat met ’n ou landsvlag daar opgedaag het en ’n geleentheid polities probeer kaap het.

Die landbou het in 1994 al ons Grondwet en nuwe simbole, waarvan die landsvlag en volkslied in sy totaliteit deel is, aanvaar. Alle boere waarmee ek gepraat het, was gekant en kwaad oor die enkelinge wat die aandag van aanvalle op plaasbewoners met hierdie optrede probeer weglei het.

Op die meeste byeenkomste was daar mense van alle bevolkingsgroepe en dit het ’n godsdienstige inslag gehad.

Watter een van Agri SA se vyf sentrums van uitnemendheid is die belangrikste?

Eintlik wil ek sê hulle is almal ewe belangrik. Ek dink net in terme van menselewens en die beskerming van ons boere, kan ons veiligheid ’n trappie bo die ander plaas. Daar doen Kobus Breytenbach as voorsitter en Kobus Visser uitstekende werk.

Die ander is grondkwessies, wat deur Annelize Crosby hanteer word, en arbeids- en maatskaplike kwessies, wat deur Jahni de Villiers hanteer word. Janse Rabie, ’n omgewingsprokureur, sien om na natuurlike hulpbronne en dr. Requier Wait hanteer ekonomiese en handelskwessies.

Dit is ’n interessante tyd vir Agri SA. ’n Klomp nuwe mense moet hulself instudeer, maar hulle is ’n slim en dinamiese groep.

Het julle nie dalk te vinnig te veel ou kennis en ervaring prysgegee nie?

Ek dink dit is ’n natuurlike proses, want opvolgbeplanning is een van die belangrikste funksies van ’n raad. Jy moet sorg dat daar nuwe mense kom in die plek van dié wat uitbeweeg sodat die besigheid aan die gang kan bly.

Nuwe mense bring weer nuwe dinamika. Alles het darem nie eensklaps gebeur nie; daar was ’n driejaartydperk van opvolgbeplanning. In elk geval, ons ou span is steeds daarbuite. Hulle is nie weg nie. Ons kan hulle steeds raadpleeg wanneer dit nodig is.

Jy het in jou eerste boodskap gesê jy wil nooit met ’n pessimistiese boodskap voor ’n gehoor staan nie. Is dit nie te idealisties in die huidige klimaat nie?

Ek wil altyd realisties-positief probeer wees. Die negatiewe dinge is daar en ek is bewus van die bedreigings en probleme, asook hoe boere op grondvlak voel en hoe onseker hulle is. Tog is daar net soveel positiewe aspekte.

’n Mens moet kies waarop jy wil fokus. As dit op die negatiewe dinge is, bied jy eintlik geen leierskap nie. Jy vat mense nêrens heen deur net op die negatiewe dinge klem te lê nie, en ek dink nie mense is lus vir negatiewe leierskap nie. Dus . . . realisties, maar positief!

Wat sal jy graag gedurende jou termyn wil bereik?

Ek sal graag ’n visie van eenheid oor die landbou wil bevorder. Die hele samelewing moet die belangrikheid van die landbou besef en erken – van skoolkinders tot ma’s wat winkel toe gaan. Alle bevolkingsgroepe en vlakke van die samelewing moet besef hoe belangrik die landbou en voedselproduksie is.

As ons dit kan regkry, sal ek tevrede wees. ’n Klomp goed gaan natuurlik daarmee saam. Ons boere moet veilig wees, hulle moet winsgewend wees, ons moet ons natuurlike hulpbronne reg hanteer en beskerm en ons moet op sosiaal-maatskaplike vlak baie doen om ons beeld en verhouding met werkers te bevorder.

Dus . . . realisties, maar positief!