Kriek, wat onbestrede by Agri SA se jaarkongres buite Pretoria verkies is en ook voorsitter van Vrystaat Landbou is, sê hy glo eenvoudig nie dat van die negatiewe voorspellings wat soms oor landbou gemaak word, gaan gebeur nie.

“Ek glo vas Agri SA sal die tuiste word van boere uit alle dele van die samelewing,” het Kriek gesê, wat saam met ’n paar ander lede van Agri SA die taak toegeken was om die organisasie se transformasieproses oor die afgelope drie jaar te beplan.

“Sommige mense het gesê dit kan nie gedoen word, maar ons het dit in net drie jaar reggekry. Vandag is die grondwetlike veranderings aanvaar wat ons in ’n nuwe opwindende era inlei. Ek is geweldig trots daarop.” 

Kriek glo vas Agri SA is op die regte pad. “Mense sal by ons aansluit, want ons doen die regte ding.”

Hy het aandrie ondernemings aan lede van Agri SA gegee: om nie van die organisasie se grondwet af te wyk nie, om met enige groep saam te werk wat oplossing vir landbou se probleme soek gegrond op volhoubaarheid en ekonomiese beginsels, en om te help om ’n gemeenskap te skep gegrond op demokratiese waardes en maatskaplike geregtigheid.

Mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van Agri Noordwes, is as die eerste onder-voorsitter van Agri SA verkies, en mnr. Phinaes Gumede, onder-voorsitter van KwaNalu, is herverkies as tweede ondervoorsitter.