Die TLU SA dring aan op die afdanking van me. Ayanda Dlodlo, adjunk-minister van Staatsdiens en Administrasie, oor uitsprake dat grond onteien moet word sonder vergoeding, want “dit was in die eerste plek gesteel”.

Dié organisasie het in 'n verklaring gesê Dlodlo verkondig onwaarhede en skep 'n gevaarlike klimaat vir grondeienaars.

Gevaarlike uitsprake

Dlodlo het tydens 'n verdelende debat oor grondsake, wat by die Universiteit van KwaZulu-Natal aangebied is, gesê die kern van die Wetsontwerp op Onteiening fokus op die nasionale belang.

Dlodlo moes ook pa staan vir bewerings dat die Regering toelaat dat korrupsie en wanadministrasie die proses van grondhervorming belemmer. Sy het onder luide protes van die gehoor gesê dat die ANC probleme met korrupsie aanspreek.

Verskeie deelnemers aan die gesprek het aangedring dat grond dringend herverdeel moet word, insluitend oproepe van sommige dat mense grond self moet terugvat.

Reaksie

Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van die TLU SA, het gesê die ANC moet wegbeweeg van politieke ideologie en besluite neem wat ekonomiese groei en werksgeleenthede in Suid-Afrika sal bevorder.

"Mense moet besef die politiek het niks vir hierdie land gedoen nie. Kyk hoeveel mense sit sonder werk. Hoekom sal mense belê in grond as hulle dit nie kan besit nie?"

Volgens Meintjies dui toenemende uitsprake deur politici dat grond gesteel is en teruggegee moet word, op die ANC se desperaatheid oor sy loesing in die munisipale verkiesings verlede jaar.

Duidelikheid

“Pres. Jacob Zuma moet dit duidelik stel of hy as leier van die ANC ook dié mening toegedaan is, wat daarop sal neerkom dat die grondwetlike bepaling dat geen eiendom onteien kan word sonder billike vergoeding nie, vertrap word. As hy die bepaling wil omseil, beteken die res van die Grondwet dus ook niks vir die ANC nie,” sê Meintjes.

Dlodlo het tydens die debat gesê niks keer die Regering om die Grondwet aan te pas om beter in die hoeftes van Suid-Afrikaanse burgers te voorsien nie en dat die nuwe wetsontwerp juis deel van dié proses is.

Meintjes sê die vermoede bestaan reeds lank dat die ANC niks vir die Grondwet voel nie, maar dat die party slegs aandag gee aan die Freedom Charter en die Nasionaal Demokratiese Revolusie (NDR).