Die DBV het die lasbrief op 12 Maart bekom. Die DBV moet die koste van dié hofsaak dra. Die DBV moet ook die koste dra van sy vorige hofaansoek teen Al Mawashi se uitvoer van die skape na Koeweit.

Luidens die hofbevel mag drie verteenwoordigers van die DBV die skip Al Messilah, wat die skape na Koeweit gaan neem, ondersoek voor, gedurende en nadat die skape op die skip gelaai is. Dié skip het gister (18 Maart) by die Oos-Londense hawe aangekom.

Landdros Lydia Monakali het tydens die hofverrigtinge die DBV gekritiseer omdat die aansoek ex parte ingedien is, wat beteken Al Mawashi is nooit kennis gegee van sy plan om lasbriewe te bekom nie.

“Die DBV is al op verskeie geleenthede gewaarsku om nie aansoeke op ’n ex parte-basis voor die hof te bring nie. [Al Mawashi] sê dit kos hom miljoene rande om die ex parte-aansoeke wat op die nippertjie teen hom gebring word teen te staan.

“Die DBV voer aan dat hy dit gedoen het omdat hy nie geweet het wanneer die skip sou aankom nie, maar daar word in sy aansoek genoem dat hy besig was om met die maatskappy te onderhandel. Hoekom dan nie net vra nie?”

Dierebeskermingswet

Monakali het gesê die lasbrief het aan die DBV magte gegee wat nie binne die bepalings van die Dierebeskermingswet (Wet 71 van 1962) is nie. “Ingevolge dié wet mag beamptes slegs bepaal onder watter toestande die diere aangehou word. Die lasbrief gaan egter verder en sê dat beamptes op die skip toegelaat moet word terwyl die skape daarop gelaai word, en dat die laai van die skape tot stilstand moet kom indien die toestande op die skip na hul mening die welvaart van die diere benadeel.”

Monakali het beveel dat drie inspekteurs van die DBV toegelaat moet word om die skip te ondersoek, maar dat hulle nie die gesag het om te beveel dat die laai van die skape tot stilstand moet kom nie. “Daar is goeie gronde om die lasbrief teen Al Mawashi te herroep. Die DBV moet die regskoste betaal.”

Mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi Suid-Afrika, verwelkom die uitspraak. “Die hof het die DBV se kwaadwillige bedoelings en die feit dat hy nie bereid is om goedwillig saam te werk nie, opgesom. Ons glo steeds dat dierewelsynsorganisasies ’n belangrike rol in die samelewing speel en ons is bereid om saam met die DBV te werk. Dié organisasie gebruik egter van elke vuil truuk in die boek.”

Ally sê die DBV is nooit toegang tot die maatskappy se skepe verbied nie. “Die DBV het egter verlede jaar tydens die verskeping van ’n vrag skape nie internasionale maritieme wet of bevele van die skipsmeester gehoorsaam nie. Die DBV het mense aanboord gebring wat nie inspekteurs was nie. Ons hoop die DBV gehoorsaam die hofbevel.”

AfriForum

Mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het intussen aangedui dat dié organisasie nie meer by die DBV se hofaansoeke teen Al Mawashi betrokke is nie. “AfriForum het van die begin af aangedui dat ons betrokke geraak het by die saak om toe te sien dat uitvoere sonder reputasieskade vir die skaapbedryf kan voortgaan deur druk op Al Mawashi te plaas om hulle huis in orde te kry. Dit was veral nodig na die verdoemende LWCC-verslag, wat nie geïgnoreer kon word nie.”

Hy sê dat gesprekke waarby AfriForum se regspan betrokke is om ’n protokol vir skaapuitvoere na die Midde Ooste in plek te kry, goed vorder en dit is nie “wenslik” vir AfriForum om by enige verdere regsaksie betrokke te raak nie. “Gevolglik was AfriForum nie betrokke by gister se hofsaak tussen die DBV en Al Mawashi nie en beplan ons ook nie tans verdere regsaksie nie.”