Mnr. Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering en omgewingsake, sê hoewel die reënval verblydend is, beteken dit nie dat die einde van die droogte in sig is nie. “Sommige distrikte het meer reën gekry as ander, maar min plekke het meer as 10 mm se reën gehad. Die werklikheid is dat die droogte nog in volle gang is en ons moet voortgaan om dit te bestuur.” 

Hy het inwoners van die Karoo aangemoedig om steeds water te bespaar aangesien reservoirs en boorgate nou vinnig opdroog. Sy departement sal voortgaan om droogtehulp aan munisipaliteite soos Beaufort-Wes, Kannaland en Laingsburg te verskaf. 

Bredell het ook gevra dat mense wat ’n bydrae tot droogtehulp wil lewer, soos die sink van boorgate, met die departement kontak moet maak. “Ons verwelkom enige vorm van hulp en ondersteuning. Dit is van deurslaggewende belang dat ons ’n gesamentlike poging aanwend om so doeltreffend moontlik op te tree en soveel moontlik mense te help.” 

Die damvlakke in die Wes-Kaap is tans gemiddeld 46,6% (vergeleke met 23,6% in 2018). Damme in die Gouritz-opvangsgebied is slegs 17,65% vol. In die ooreenstemmende tyd verlede jaar was dié damme 21,81% vol. 

Groot glimlag

Mnr. Neville Schefferman, ’n boer van Vryheid in KwaZulu-Natal, glimlag van oor tot oor nadat Sondag sowat 133 mm reën binne anderhalwe uur op sy plaas geval het. Op ander plase binne ’n radius van 20 km van sy plaas is gemiddeld 60 mm tot 70 mm gemeet. 

Hy sê boere in dié distrik het van tyd tot tyd reën gekry en is dus nie in dieselfde benarde posisie as vele ander boere in die land nie. Volgens hom maak boere in die distrik hooibale bymekaar sodat dit vir boere in droogtegeteisterde gebiede gestuur kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.