“Dit het redelik wyd en algemeen oor die grootste deel van Namibië gereën, en die neerslae was bo verwagting hoog,” het mnr. Dawie de Klerk, voorsitter van die Hardap-boerevereniging, aan Landbouweekblad gesê. Daar is egter nog droë dele in die noordweste, asook plase en plekke waar dit steeds droog is.

In die suide van Namibië is die Hardapdam, die land se tweede grootste dam, se sluise vandag oopgemaak nadat die damvlak tot bo 70% gestyg het.

Boere in die Hardapskema moes ’n jaar gelede nog met slegs 60% van hul normale besproeiingskapasiteit klaarkom nadat die damvlak tot onder 10% gedaal het. Die dam was net voor Kersdag slegs 24,5% vol. Volgens De Klerk het die reën die afgelope tyd ’n noemenswaardige verskil gemaak om die damvlak tot die huidige 71,8% te laat styg. 

Gebiede het die afgelope drie tot sewe jaar droogtetoestande ervaar, maar De Klerk sê die droogte was veral die afgelope drie jaar straf.

Hardapdam
Die sluise van die Hardapdam naby Mariental is Dinsdagoggend oopgemaak na die dam se vlak bo 70% gestyg het. Die dam was ’n jaar gelede minder as 10 % vol. Foto: Verskaf

Die Hardapdam se sluise sal vir die eerste vier uur teen 200 kubieke meter per sekonde oopgehou word om die riete in die benede-Visrivier plat te druk, waarna die uitlaat tot 500 kubieke meter per sekonde verhoog sal word. Indien die riete nie platgevee word nie, kan dit as buffer dien sodat water opdam en die Visrivier oor sy walle stoot.

Volgens De Klerk sal NamWater, die Namibiese waterkorporasie, uiteindelik die uitlaat volgens die invloei reguleer om die damvlak rondom 70% te hou. Die damvlak moet volgens ’n moratorium van die regering by 70% gehou word om oorstromings onder die dam te voorkom.

Oorstromings

Mariental, wat reg onder die dam geleë is, is al verskeie kere onder water gelaat weens sluise wat weens oorstromings oopgemaak moes word om druk op die dam te verlig. Tydens die laaste vloed in 2006 het etlike besighede op die dorp groot skade gely en moes honderde mense hul huise ontruim.

Volgens me. Ina van Tonder, landboukorrespondent van Kanaal 7, is die huidige situasie kommerwekkend omdat die amptelike reënseisoen vir die suide van Namibië eers in Februarie begin, en die situasie op Mariental reeds middel Januarie gespanne is.

Boere in die Hardapskema, wat onder die dam geleë is, het reeds skade gely nadat die Dabibrivier op Oujaarsaand sy walle oorstroom het, sê De Klerk. Die Dabibrivier sluit onder die Hardapdam by die Visrivier aan. Skade is deur verspoelings aangerig toe lande waarop mielies geplant is, oorstroom is. Die lande sal weer oorgeplant moet word.

Die Nautedam, Namibië se derde grootste opgaardam naby Keetmanshoop in die Kharasstreek, se sluise is reeds op 4 Januarie oopgemaak toe die dam 97% van sy kapasiteit bereik het, berig Informanté. Die dam was die volgende dag 119% vol en al vier sluise van die dam is oopgemaak om die uit- en invloei te balanseer. Volgens die Namibiese uitsaaikorporasie is dele van die Naute-besproeiingskema naby Keetmanshoop onder water nadat die sluise oopgemaak is.

Swaar reën wat sedert begin vandeesweek in Windhoek val, het ook verskeie oorstromings in dié hoofstad tot gevolg gehad.