Een van die grootste marktoegang-deurbrake sedert deregulering in die landbou is pas deur die SA Tafeldruiwe Industrie (SATI) en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) bevestig.

SATI sê in 'n nuusverklaring hy is verheug oor China die kouebehandeling-protokol van Suid-Afrikaanse tafeldruiwe tot ’n meer vrugvriendelike protokol verander het. Dit skep ’n markgeleentheid om tafeldruif-uitvoer vanaf Suid-Afrika na China met sowat R2,5 miljard oor die volgende vyf jaar te verhoog.

Die departement het bevestig dat die China kouebehandeling-protokol reeds met die 2016/’17-seisoen van toepassing is. Die protokol is verander na +0,8 grade C vir ’n minimum van 20 dae (dit was -0,6 grade C vir 22 dae). Alhoewel dié opwindende mark vir Suid-Afrikaanse tafeldruiwe oop was, het die vorige protokol onbekostigbare risiko ingehou in die vorm van koue verwante skade aan druiwekorrels en stingels.

Groot mylpaal

Mnr. Michael Laubscher, SATI se voorsitter, het die geleentheid beskryf as ’n groot mylpaal vir SATI wat in ’n baie kort tyd en met kommersiële dringendheid geïnisieer en suksesvol afgehandel is. “Dit sal China baie meer toeganklik maak vir Suid-Afrikaanse produsente en ons produk meer mededingend maak.”

“SATI vertrou dat hierdie deurbraak produsente en uitvoerders in staat sal stel om die enorme potensiaal van die China mark te verwesenlik. Hiermee word erkenning gegee aan DAFF en alle ondersteunende rolspelers wat hierdie deurbraak vir ons bewerkstellig het,” sê Laubscher.

China betaal premie

Die Chinese mark vir tafeldruiwe – wat reeds in 2014 tafeldruiwe ter waarde van nagenoeg VSA$600 miljoen ingevoer het – is die vyfde grootste invoermark en toon by verre die hoogste groeikoers teen 30% per jaar oor die afgelope vyf jaar (2010/’14). Die Chinese mark is ook een van die markte wat ’n premie betaal vir ingevoerde druiwe.

Alhoewel Suid-Afrika in 2014 die vierde grootste uitvoerder van tafeldruiwe na China was met 10 000 ton (2015, 10 600 ton), het die protokol uitvoer na die mark vertraag.

Die nuwe protokol en verbeterde markgeleentheid bied tafeldruif produsente die kans om nuwe wingerde te vestig om China te bedien wat tot ’n beduidende getal nuwe plaaslike werksgeleenthede kan lei.