Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het hom as ’n meester van die landbou en landelike ontwikkeling beskryf. Hy was ’n reus in die Suid-Afrikaanse landbou en het ’n groot bydrae tot beleid en die akademie gelewer.

“Karaan se afsterwe is ’n groot verlies vir die land in ’n tyd wanneer ons leiers wat prakties oor ontwikkeling dink, soos hy, benodig met die land wat begin om die ekonomiese herstelplan toe te pas. Hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelingsplan is hoofsaaklik saamgestel uit sy visie vir die landbou en landelike ontwikkeling wat die belang van vennootskappe tussen die openbare en die private sektor as deel van die regering se breër landbou-ontwikkelingsbenadering beklemtoon het.”

Didiza het benadruk dat sy nalatenskap geëer moet word deurdat met hierdie benadering volgehou moet word as deel van die regering se breër ontwikkelingsbenadering vir die landbou.

Brugbouer

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het gesê Karaan was ’n brugbouer tussen die regering en die landbousektor en het ook mense bymekaar gebring. Hy was ’n goeie bemiddelaar van dialoog en rede in die politieke ekonomie van die land. Karaan het die impak van beleidonsekerheid op die landbousektor verstaan en pragmatiese oplossings aangebied. “Die landbou was sy passie en sy nalatenskap sal voortgaan om ons te inspireer,” het Meyer gesê.

Karaan het ook bygedra tot die ontwikkeling van die Wes-Kaapse departement van landbou se benadering tot landbouverwerking, die ontwikkeling van halaalprodukte en die opleiding van boere om die halaalmark te betree.

Mnr. Francois Baird, stigter van Fairplay, het gesê Karaan het nie net sy kennis en goeie raad na die beweging gebring nie, maar het ook sy uitgebreide netwerk beskikbaar gemaak. “Hy het tyd vir ons almal gemaak en het net soos ons by Fairplay aan die kant van die mense gestaan. Hy het opreg vir mense omgegee, veral diegene wat arm, magteloos en stemloos is.”

FairPlay is ’n internasionale anti-stortingsinisiatief. Karaan was ’n stigterslid van die organisasie se paneel kenners.