Dít volg nadat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat met die boere in Ermelo vergader het, beveel het dat alle uitsettingsbriewe wat op die boere bedien is, teruggetrek moet word.

Mnr. Reggie Ngcobo, Didiza se woordvoerder, het aan Landbouweekblad bevestig dat die terugtrek van die uitsettingsbriewe nie net vir ’n sekere distrik geld nie, maar vir die hele provinsie.

’n Span van die departement se eiendomsbestuurseenheid sal vir twee weke in die provinsie wees om met die boere te ontmoet wie se huurkontrakte nie afgehandel is nie. Mnr. Vusumuzi Shongwe, LUR vir landbou, landelike ontwikkeling, grond en omgewingsake in Mpumalanga, sal dan ’n week ná die eiendomsbestuurseenheid se aksie met boere-organisasies vergader om nasorgondersteuning en ondersteuning vir landbou-ontwikkeling te bespreek. Shongwe sal ook met die nasionale departement vergader om te kyk na gemeenskapseiendomsverenigings en trusts om hulle ondersteuning te bied.

Tekens van korrupsie

Landbouweekblad het in Oktober berig dat mnr. Velly John Mabasa, wie se familie al sedert 1886 op die plaas Goedehoop buite Ermelo boer, veg om op sy plaas te bly. In ’n beëdigde verklaring sê Mabasa toe hy in 2019 by die departement se kantoor op Ermelo was, het ’n amptenaar hom vertel dat hy nie ’n 30-jaar-huurooreenkoms gaan kry nie tensy hy R250 000 betaal. Hy is een van die boere wie se onafgehandelde huurooreenkoms aandag sal kry.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het vroeër die kwessie van ’n groep suksesvolle swart boere in Mpumalanga wat uitsettingsbriewe ontvang het, uitgelig. Die DA het die boere bygestaan wat na bewering deur korrupte amptenare getreiter is om duisende rande te betaal sodat hulle huurkontrakte kon kry. 

Rakende die terugtrek van die uitsettingsbriewe, wys Steyn uit dat hoewel Didiza se erkenning dat daar duidelike tekens van korrupsie is by die plaasuitsettings in Mpumalanga ’n stap in die regte rigting is, beteken dit niks as die minister boere die maan en die sterre belowe, terwyl die amptenare in haar provinsiale departement met hul korrupte gedrag voortgaan nie. Die DA doen ook ’n beroep op Didiza om ’n lys van alle plase in staatsbesit bekend te maak. 

Cloete

Steyn het intussen ook uitgewys dat mnr. Ivan Cloete, Wes-Kaapse boer, 25 dae nadat die departement besluit het hy mag op die plaas Colenso in Darling aanbly, nog nie sy 30-jaar-huurooreenkoms gekry het nie. 

Steyn sê omdat die departement verslag gedoen het aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling dat Cloete so ’n huurooreenkoms sal kry, sal sy mnr. Mandla Mandela, voorsitter van dié komitee, vra om Didiza daarvoor verantwoordelik te hou.