Mbabama wou weet of die departement ’n oesversekeringskema oorweeg wat deur die staat gesubsidieer word, gegewe die risiko’s en hoë koste om gewasse te verseker.

Didiza sê die departement het die behoefte aan sulke versekering geïdentifiseer en sal met die nasionale tesourie en die Land Bank samesprekings voer oor hoe so ’n versekeringskema ontwikkel kan word, asook hoe risiko’s wat met so ’n stelsel gepaardgaan, gefinansier kan word.

Die landbousekor vra reeds lank dat meer hulp gebied moet word om volgehoue voedselsekerheid te verseker.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê klein- en kommersiële boere sal dit beslis verwelkom. “Ons het soveel kwessies op plase dat elke bietjie sal help. Boere se marges is laag en dit sal ook help met kontantvloei, wat op sy beurt die sektor sal help.” Wie die administrateur van die versekering gaan wees, is ’n belangrike kwessie waaroor deeglik besin sal moet word. Hy stel voor dat dit gedoen word saam met versekeringsmaatskappye, soos Santam, wat die bedryf verstaan.

Toepassing

Prof. Nick Vink, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, meen dat die toepassing daarvan van groot belang sal wees.

Volgens Vink is daar geen voorbeeld waar so ’n versekeringskema sonder ’n subsidie werk nie; nie in Amerika nie en nie in ontwikkelende lande nie. Die rede hiervoor is drieledig.

Dit is kovariante risiko, waar alle produsente met versekeringsdekking gelyktydig eis wanneer daar droogte of vloede is; teenseleksie, wanneer net mense wat gaan eis, die versekering uitneem; en ’n sedelokval, waar dit vir boere maklik is om op te tree en te boer op ’n manier wat veroorsaak dat hulle meer dikwels eis as wat hulle mag omdat plase ver uitmekaar is en dit duur is om hulle te polisieer.

Dit is drie algemene probleme in die versekeringsbedryf en veroorsaak dat versekeraars moeilik wins maak, vandaar die behoefte aan subsidies.

“Maar om in hierdie tyd van bankrot staatsinstellings oor nuwe subsidies te droom, is nie verantwoordelik nie,” sê Vink. In die vorige bedeling het die land die tipe versekeringsubsidies gehad, maar dit het boere nie veel gehelp nie.

Kan dit werk?

Mnr. Theo Boshoff, bestuurder van regsintelligensie by Agbiz, sê dit is ’n interessante konsep en Graan SA vra al ’n lang tyd daarvoor om onder meer opkomende boere te ondersteun. Boshoff voel dat so ’n soort gesubsidieerde verskeringskema beslis beter is as ’n regstreekse subsidie. Regstreekse subsidies kan ingevolge die reëls van die Wêreldhandelsorganisasie daartoe lei dat invoertariewe op Suid-Afrikaanse landbouprodukte geplaas kan word. Onregstreekse subsidies, soos die versekeringskema, verklein die kanse hiervoor “en ek glo dit is ’n meer strategiese vorm van ondersteuning”.

Dit plaas ook natuurlik minder van ’n regstreekse las op die fiskus aangesien dit slegs ’n subsidie is. Die geld wat vir die subsidie gebruik word, kan dus potensieel vir die private sektor geld ontsluit. “Dit is in beginsel ’n goeie idee, maar ’n mens sal die volle verdienste eers kan evalueer as die besonderhede bekend gemaak word.”

’n Skema wat private versekeringsmaatskappye toelaat om te bie en aansoek te doen om die subsidies – onderhewig daaraan dat hulle aan voorgeskrewe ontwikkelingsmaatreëls voldoen – kan werk. Dit sal verseker dat daar voldoende mededinging in die mark bly.

Waaroor ’n mens egter baie versigtig moet wees, is om onregverdige mededinging te skep in die vorm van ’n gesubsidieerde versekeringsmaatskappy wat met die kommersiële maatskappye meeding. Boshoff sê die subsidie kan help om versekering toegankliker te maak, maar sê dat risikokriteria steeds toegepas moet word om seker te maak dat die onderneming wat verseker word, wel volhoubaar is. In hierdie verband moet die uitwerking van klimaatsverandering ook in gedagte gehou word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.