Data van die Landbounavorsingsraad (LNR) se weerstasies toon die maksimum temperature van September 2018 tot Desember 2018 was bonormaal hoog in Suid-Afrika. In sommige dele, soos Limpopo, was die maksimum temperature in Desember 2018 tot 5 °C hoër as gewoonlik.

Dr. Christien Engelbrecht, senior navorser by die LNR se Instituut vir Grond, Klimaat en Water, sê by die meeste stasies in Noordwes, Gauteng en die Vrystaat was die maksimum temperatuur in dié tydperk minstens 3 °C hoër as normaalweg.

Die verskillende kleure toon hoe groot die afwykings in maksimum temperature by die betrokke LNR-weerstasies was, vergeleke met dié van die vorige 30 somers. Bron: LNR Instituut vir Grond, Water en Klimaat

“In Oktober was dit veral in die westelike en suidelike dele van Suid-Afrika baie warm, insluitend die winterreënvalgebiede. Op plekke was die getal hittegolfdae tot tien dae meer as die gemiddeld in die vorige tien jaar,” sê Engelbrecht.

Die huidige somer se erge hitte en lae reënval word deels aan die El Niño-weerverskynsel toegeskryf.

Engelbrecht sê dit word as ’n swak El Niño geklassifiseer. “In sulke omstandighede is al gevind dat dit moeiliker is om voorspellings vir die seisoen te gebruik.”

In teenstelling hiermee is die droogte van 2015-’16 deur ’n sterk El Niño veroorsaak, wat gekenmerk word deur eienskappe wat duideliker seisoenale voorspellings moontlik maak. 

Nóg warmer 

Engelbrecht sê op langer termyn, van 2041 tot 2070, verwag navorsers dat maksimum temperature in die land gaan bly styg.

“Dit is ’n bekende boodskap, maar die vraag is hóéveel warmer dit gaan word.

“ ’n Verskeidenheid van klimaatprojeksies dui daarop dat die maksimum temperature met tot 6 °C  kan styg, met die grootste stygings in die binnelandse gebiede.

“Die konserwatiefste projeksies dui op stygings van 2 tot 3 grade.

“Ons kan met redelike sekerheid sê dat landwye verwarming ons voorland is,” sê Engelbrecht.

Om projeksies oor die verwagte reënval te maak, is moeiliker en daar is groot verskille tussen klimaatprojeksies. Die grootste sekerheid is egter dat die winterreënvalgebiede se reën minder gaan word.

Engelbrecht sê ’n mens kan verwag dat Suid-Afrika se droër jare mettertyd, in die aanloop tot die volgende eeu, meer as die nat jare gaan wees, en dat daar meer opeenvolgende droë jare gaan wees.

Die projeksies vir die Kaapse Suidkus het gemengde boodskappe dat droë en nat jare mekaar kan afwissel, maar dat die droë jare na die einde van die eeu erger gaan wees.

Projeksies vir die somerreënvalgebiede toon groter wisseling, vergeleke met die projeksies vir die winterreënvalgebied.

Boere moet aanpas

Na aanleiding van die projeksies sê Engelbrecht en prof. Sue Walker, hoofspesialisnavorser van die instituut, boere kan op lang termyn al hoe meer warm dae en groter onsekerheid oor reënval verwag.

Walker sê boere moet vooruit beplan vir swakker jare en vir korter tydperke van intensiewe boerdery.

“Boere moet droogtebestande gewasse wat vinniger geoes kan word, oorweeg.

“Hulle moet onder meer kyk na tegnologie waarmee hulle water kan bespaar, en diere se byvoeding en lekke tydens hittegolwe aanpas om die elektrolietbalans te stabiliseer.

“Dit gaan alles oor bewaringslandbou.”

Die Waternavorsingskommissie en die Universiteit van die Vrystaat se Sentrum vir Rampbestuuropleiding en Opvoeding (DiMTEC) het met ’n projek begin om waterbestuurscenario’s vir die landbou op te stel.

Walker was een van die aanbieders by ’n onlangse byeenkoms van belanghebbendes, en het LNR-navorsers se insette gelewer oor die invloed van klimaatsverandering op die landbou, en hoe boere daarby kan aanpas.

Kopskuif

Volgens prof. Michiel Scholtz, spesialisnavorser van die LNR se Instituut vir Diereproduksie, het die meeste veeboere nog nie die nodige kopskuif hieroor gemaak nie.

“Hittestres het ’n regstreekse invloed op diere se voerinname, groei en reproduksie. Dit is ’n algemene oorsaak van reproduktiewe ondoeltreffendheid, want hitte beïnvloed bulle se semengehalte.”

Scholtz raai boere aan om te kyk na inheemse Afrika-rasse wat in strawwe omstandighede kan oorleef.

Hy sê navorsing het byvoorbeeld getoon ’n Afrikanerbees verloor ná 24 uur sonder water slegs 2% gewig, teenoor 15% in eksotiese rasse.

Die Afrikanerbees se voerinname het in dié tydperk dieselfde gebly, terwyl eksotiese rasse s’n met 24% gedaal het.

“Tydens die hittegolwe in 2015-’16 het die groeitempo van uitheemse rastipes met 17% afgeneem, teenoor ’n afname van 9% by inheemse rastipes.”

Scholtz sê boere moet ook in ag neem dat warmer toestande weiding en voergewasse en die beskikbaarheid en pryse van voer kan raak.

“Dit is dus belangrik om na alternatiewe voerbronne te kyk, soos byvoorbeeld ‘boskos’,” sê hy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.