Natuurlik is die gronddebat in Suid-Afrika tans ’n baie emosionele kwessie. Dit is ook so dat twis oor grondgebied die oorsaak was van baie oorloë en geweld in die wêreld se geskiedenis. Met die Anglo-Boereoorlog het dit vir die Britse regering suiwer gegaan oor grondbesit.

Baie onlangs het Rusland ’n deel van die Oekraïne ingeval en met geweld oorgeneem. Die beleidsbesluite wat die ANC op sy kongres verlede Desember aanvaar het, en daarna die parlementêre mosie en die daaropvolgende debatte oor die onteiening van grond, het aanleiding gegee tot heelwat verkeerde gevolgtrekkings.

Moet geen fout maak nie: Dit is ’n brandende kwessie en die vuur word aangeblaas deur die aanhitsers met verdraaide liegstories.

Kundiges is oortuig dat Agri SA en Landbouweekblad se oudit van grondeienaarskap baie geloofwaardiger is as die syfers wat die ANC gebruik.

Een van die eerste stappe behoort te wees om die korrekte feite as vertrekpunt te gebruik, maar dit gaan nie die aanhitsers stilmaak nie. Dit gaan nie die probleem oplos om ooreen te kom op 30-40% grond in swart eienaars se besit nie, want daar is meer op die spel.

Die kwessie gaan ook nie verdwyn bloot omdat die regte statistieke op die tafel is nie. Baie boere praat mekaar vuurwarm oor die onderwerp en neem ingrypende besluite op grond van praatjies om ’n braaivleisvuur. In ’n poging om die debat meer feitelik te kry, is op 13 April in Bloemfontein ’n werksessie gehou met ’n groot aantal boere en ander belanghebbendes.

Die politieke ontleder mnr. Theo Venter, me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, en mnr. Pierre Venter van die SA Bankvereniging het insette gegee. Hieronder volg my eie opsomming van die aanbiedings en gesprekke.

ANC in twee kampe

Die ANC is in ’n stryd binne homself gewikkel. Ons moet onthou dat mnr. Cyril Ramaphosa in die Desember-verkiesing met ’n baie klein meerderheid teen die Zuma-kamp gewen het. Hy sit dus met ’n sterk kamp vol Zuma-lojaliste (wat allesbehalwe eerbare mense is) en moes ook van hulle in sy Kabinet aanstel.

Hoewel Ramaphosa besig is met beleidshervorming en om die staatsinstellings te probeer regruk, is hy vasgevang in ’n posisie waar hy kompromieë moet aangaan om vorentoe te beweeg. Dit is wat gebeur het in die debat oor grondbeleid op die ANC-kongres.

Die Ramaphosa-kamp moes tot laatnag veg om remme in die Zuma-groep se oorspronklike onteieningsvoorstel te plaas, onder meer die voorwaarde dat die ekonomie en voedselsekerheid nie geskaad moet word nie. Daar is skynbaar vrese in die Ramaphosa-kamp dat steun vir die ANC in die 2019-verkiesing onder die 50%-kerf gaan daal op nasionale vlak en in die provinsies.

Dit verklaar die gevryery na die steun van die EFF. Die feit dat die media berig die Zuma-faksie wil KwaZulu-Natal in die verkiesing kaap, kompliseer die ANC se interne politiek verder. Dan moet ’n mens ook besef daar is baie emosie oor die grondkwessie en die beperkings wat die vorige bedeling op swart mense se regte geplaas het.

Dit gaan nie verdwyn nie en ’n mens moet met dit as ’n gegewe werk.

Die georganiseerde landbou en ander belangegroepe sal binne die beperkings soek na ’n oplossing. Teen die agtergrond van die ANC-kongresbesluit was dit vir die ANC onmoontlik om teen die EFF se mosie te stem in die Parlement, maar hy kon wel weer wesenlike wysigings aanbring en die mosie verwater.

Die parlementêre mosie en die ANC-kongresbesluit wat uiteindelik aanvaar is, moet fyn gelees word om beter konteks te kry van wat in die komende tyd verwag kan word en waarop die klem gaan val.

In die mosie is daar ’n lang aanloop met erkenning aan die ongeregtighede van die verlede en natuurlik aanhalings van verkeerde statistieke oor die huidige grondbesitpatroon. Dan word erken dat die grondherverdelingsprogram en die herstel van grondregte sedert 1994 nie suksesvol was nie.

’n Grondwetlike hersieningskomitee van die Parlement het opdrag gekry om te bepaal of die artikel 25 in die Grondwet ’n struikelblok is om grondherverdeling te doen en veranderinge voor te stel, waar en indien nodig om ’n beter grondbesitpatroon te bewerkstellig.

Die komitee moet teen 30 Augustus verslag doen ná openbare verhore in elke provinsie. Die datums van die verhore sal mettertyd bekend gemaak word. Op die konferensie was almal dit eens dat die kommersiële landbou tot elke prys minstens skriftelike voorleggings moet doen vir elke verhoor.

Die doel is om die feite te stel en die perspektief te gee rondom grondgebruik vir voedselproduksie en waarom eienaarskap van grond (ook in stamgebiede en stedelike plakkerskampe) ’n grondliggende voorvereiste is vir finansiering en welvaartskepping. Intussen is die konsepwetsontwerp wat plafonne op grondeienaarskap wil afdwing, vir eers teruggetrek, maar die siening is dat daar ’n weersin in die ANC is teen groot grondbesitters en dat die wetgewing weer eendag sy opwagting kan maak.

Die pad vorentoe

In 2015 het die Speakersforum in die Parlement ’n paneel saamgestel en opdrag gegee om die inhoud en toepassing van sleutelwetgewing sedert 1994 te ondersoek. Oudpres. Kgalema Mothlantle was die voorsitter van die paneel. Daar was ’n groot klem op grondhervorming.

Die paneel het landwyd openbare verhore gehou. Die paneel se gevolgtrekking was dat die betaling van vergoeding met onteiening nie die struikelblok vir grondhervorming is nie. 

Korrupsie deur amptenare, die toewys van begrotings aan die sogenoemde elite, die gebrek aan politieke wil, swak opleiding en gebrekkige ondersteuning aan bevoordeeldes is as die grootste struikelblokke uitgewys.

Die feit dat die begunstigdes van grondhervorming nie titelaktes ontvang nie, word toenemend gesien as ’n groot struikelblok – selfs binne die ANC. Dit blyk ook die ANC is nie ten gunste van die idee van trusteeskap nie, want dit is moeilik om te administreer en onprakties. Finansieringsinstellings sou nie finansiering kan gee nie, want grond is die basis van finansiering vir instellings.

Dit is ook onomwonde gestel dat as grond (nie eiendom nie) genasionaliseer word, sal Suid-Afrikaanse banke in groot finansiële moeilikheid wees. Die sekuriteit vir die finansiering van honderdmiljarde rande sal tot nul afwaardeer moet word en dit sal die hele finansiële stelsel in die gedrang bring.

Daarmee saam word kommunale grondbesit toenemend deur stedelike swart mense en selfs binne die ANC gesien as ’n probleem – veral die misbruik van mag deur die stamowerhede ten opsigte van grond, want dit val heeltemal binne hul diskresie. Aanduidings is dat gemik word na ’n mate van gebruiksreg, eienaarskap of titelakte.

Die bedoeling is om die mag van die stamowerhede te verwater en ’n mate van gebruiksekerheid deur te voer vir die mense in die landelike gebiede. Dit het sy eie problematiek binne die ANC. Daar word ook in ander dokumente na “onbenutte” grond verwys. Om die een of ander rede bestaan die persepsie dat baie blanke boere en ander grondeienaars grond besit wat onbenut is.

Persoonlik weet ek nie van een boer waarvan die grond onbenut is nie – wel moontlik onderbenut weens ’n gebrek aan kapitaal en lewensvatbare pryse. Daar word ook verwys na onproduktiewe grond wat vir spekulasie gehou word.

Dit kan so wees in die stedelike gebiede en grond aangrensend aan stedelike gebiede, maar in die landbou glo ek daar bestaan nie meer sulke grond nie.

Daarteenoor is baie mynbougrond en heelwat grond in staatsbesit werklik onbenut.

Onbenutte grond by stedelike gebiede en stedelike geboue wat “gekaap” is, word ook uitgesonder.

Grond wat deur afwesige grondeienaars met werkers bedryf word, word ook in die verslag genoem. Presies wat daarmee bedoel word, sal nog gesien moet word. Die slotsom is dat dit nie oor boerderygrond gaan waarop geboer word nie, en dit gaan ook nie oor die nasionalisering van grond nie.

Die EFF is baie moedswillig in die proses en dit is ook duidelik dat dit nie gaan verander nie. Dit is uiters belangrik dat boere betrokke raak by die georganiseerde landbou en hul insette daar gee en dat die regte feite oral op die tafel moet kom. Dit is ook noodsaaklik om jou boerdery optimaal te bestuur en reserwes buite die boerdery te skep.

Kundiges verwag daar gaan nog etlike jare verloop voordat wetgewing oor die onteiening van grond en moontlike wysigings aan die Grondwet deurgevoer word. Dit gee boere tyd vir herposionering.