“Dit is kommerwekkend dat ons feitlik niks van die grond weet nie, al is dit so belangrik. In enige grondhervormingsproses is ‘watter grond’ en ‘wie gaan dit kry’ twee van die belangrikste vrae,” het prof. Ruth Hall van die instituut vir armoede-, grond- en agrariese studies (Plaas) gesê op ’n webinaar wat deur Plaas aangebied is.

Die feit dat die meeste van die grond in Noordwes en Limpopo is, laat Hall vermoed dit is in die apartheidsjare gekoop om tuislande te konsolideer, vandaar me. Thoko Didiza se aankondiging dat “plase beskikbaar gestel” gaan word.

Hall het gesê 700 000 ha is baie as dit met grondhervorming die afgelope 26 jaar vergelyk word. “Die hoogtepunt van herverdeling was in 2007-’08 toe 500 000 ha herverdeel is. Dit het oor tyd afgeneem. In die vorige boekjaar is net 84 000 ha herverdeel.”

Me. Tshepo Fokane, ’n navorser by die Alliance for Rural Democracy (ARD), het gesê sy is opgewonde oor die aankondiging, maar daar is dalk reeds boere of eise op die grond. “As daar leë staatsgrond is, moet dit eerder gaan na mense wat nie die grond wat hulle eis, kan kry nie.”

Al skep die proses wat op 1 Oktober bekend gemaak is, die indruk van deursigtigheid, meen Fokane almal het nie ’n gelyke kans om die grond te huur nie. Die proses kan dalk deur “die elite, mense met data, sosiale kapitaal en die inligting om die proses te verstaan”, gekaap word.

“Daar is ’n kans dat ’n stedeling soos ek wat hulpbronne het, die grond kan kry, terwyl veeboere in die kommunale gebiede wat gereeld gemaan word om minder vee aan te hou, moet toekyk hoe ander mense die grond kry.”

HOEKOM NOU?

Dit is nie net Hall en Fokane wat agterdogtig is oor die tydsberekening van die aankondiging nie. Op die webinaar se kommentaarblad het mense gewonder of dit die regerende party se manier is om guns te wen voor die munisipale verkiesing in 2021.

Volgens Fokane is die aankondiging as gevolg van druk deur mense wat tans op daardie grond is. “Ek bespiegel, maar as dit plase is wat nie destyds by die tuislande ingesluit is nie, kan dit wees dat die boere wat op daardie grond is, druk begin uitoefen het op die regering.”

Die boere kan redeneer hulle maak al van die 1980’s ’n bestaan op die plase en wil dit graag besit. “Politiek kry soms voorrang bo mense se behoeftes en menseregte. Die 700 000 ha is ’n manier om die mense stil te maak deur net eenvoudig die grond wat hulle gebruik, te adverteer.”

Wat die munisipale verkiesing betref, meen sy dit sal maklik wees vir ANC-stemwerwers om vir kiesers te sê “onthou, ons het verlede jaar 700 000 ha beskikbaar gestel”.

Hall het gesê solank as wat grondhervorming nie sentraal staan in hoe daar oor die ekonomie gedink word nie, lyk dit bloot na ’n “getallespeletjie”.

“Dit gaan oor hoeveel hektaar uitgegee word. Daar is nie ’n oorkoepelende plan nie. Daar is ’n wanverhouding tussen die groot vraag na klein stukkies grond wat goed geleë is, toegang tot water en paaie het en nie te ver van die dorp af is nie, en die plan van die regering.”

Benewens vrae oor die huidige status en geskiedenis van die plase en wie nou daarop is of regte tot die grond het, is Hall “diep bekommerd” oor die voorgestelde proses waardeur grond geadverteer word, belangstellendes aansoek kan doen om dit te besigtig en dan skriftelik aansoek vir die grond kan doen.

“Dit is ’n absolute herroeping van wat gelyke toegang tot grond beteken. Die Grondwet bepaal dat toegang tot grond op ’n regverdige basis elke burger se reg is.”

HUUROOREENKOMSTE

Waaroor daar nie genoeg gepraat word nie, is die kwessie van grondbesitregte. Hall het gesê die betrokke departement kry al vir sewe jaar gekwalifiseerde oudits omdat die staat dit net nie regkry om sy grond te bestuur en beskikbaar te stel nie.

Navorsing wat sy en prof. Tembela Kepe ’n paar jaar gelede in ’n Oos-Kaapse distrik gedoen het, toon dat daar nie ’n huurooreenkoms op enige van die grondprojekte is nie.

Volgens die jongste plan gaan suksesvolle aansoekers ’n plaas vir 30 jaar kan huur. Dit kan vir ’n verdere 20 jaar verleng word. Hall het daarop gewys dit is nie duidelik of hulle ná 50 jaar eienaars word of die grond kan koop nie.

Wat haar pla, is dat daar vir die meeste swart mense net twee opsies is: as die regering se huurders of die onderdane van hoofmanne.