Plaaslike boere wat in Afrika uitbreie is nie noodwendig ontevrede met plaaslike toestande nie, maar meestal entrepreneurs wat goeie geleenthede noordwaarts sien.

Dít was die boodskap van kundiges in die Nasie in Gesprek­reeks op vanjaar se Nampo­oesdag. “Boere is besigheidsmense; hulle word deur wins gedryf. Hulle sál gaan na waar hulle goeie winste kan maak,” het dr. Theo de Jager, president van die Pan African Farmers’ Organisation (Pafo) en Southern African Confederation of Agricultural Unions (Sacau), gesê.

“As jy in Suid­-Afrika nie ’n suksesvolle boer is nie, gaan jy ook nie in die res van Afrika suksesvol wees nie. Die volgende internasionale groeipunt vir die landbou is op hierdie kontinent. Ek sê nie ons boere verstaan die res van Afrika al heeltemal nie, maar ons verstaan Afrika strate beter as die Chinese of ander aggressiewe beleggers (in die landbou),” het hy gesê.

Mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, meen ook Suid­-Afrikaanse boere vaar goed in Afrika omdat hulle daarin geoefen is om in ’n ontwikkelende land sake te doen. Benewens Suid­-Afrika se demokratisering sedert 1994, beweeg hierdie lande nou ook in die post­koloniale era toenemend na ’n omgewing van demokrasie met ’n onafhanklike regbank. Dít bied die geleentheid om daar sake te doen, het Vorster gesê.

Mnr. Bonani Nyhodo, bestuurder van handelsnavorsing by die Nasionale Landboubemarkingsraad, het bygevoeg dat Suid-Afrikaners in die verlede weens apartheid noodgedwonge op Suid-­Afrika moes fokus. Beleidsveranderings sedert die koms van demokrasie en veranderde internasionale betrekkinge het ons sakelui in staat gestel om wyer te kyk, en het deure na die res van Afrika oopgemaak.

Vir landboubesighede wat na elders in Afrika uitbrei, is dit nie net ’n kwessie van boere­klandisie volg om daar met hulle te kan sake doen nie, het mnr. Jacob de Villiers, besturende direkteur: graanbestuur van die landboumaatskappy Afgri, gesê. Dié maatskappy het reeds takke in ’n wye reeks Afrika­lande.

“In Suid­-Afrika doen ons in ’n redelik versadigde landboumark sake. Dit is vir ons nodig om (elders) ook nuwe kliënte en groei­geleenthede te vind.”