Volgens mnr. Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Kooperasie, is die byvoeging van Chicory SA tot die groep ’n strategiese skuif om sodoende ’n meer omvattende diens aan sy produsente te bied.

Die groep meen dat dié stap die voortbestaan van die sigoreibedryf in Suid-Afrika kan help verseker.

Chicory SA is ’n bewerker en bemarker van sigorei in die Suid-Afrika. Hy is gesetel in Alexandria in die Oos-Kaap. Chicory SA, word net soos Die Kooperasie, deur boere besit en beheer.

Luidens ’n verklaring volg die oorname ná ’n verlengde periode van navorsing en onderhandeling, waarna Chicory SA ’n aanbod van ’n 100% aandeelhouding aanvaar het. Chicory SA sal sy naam behou.

Volgens die direksie en bestuur van Die Kooperasie is daar verskeie strategiese sinergieë tussen die twee maatskappye wat waarde vir albei kan ontsluit.

“Deur vergoeding vir sigorei te verseker, sal ekonomiese stabiliteit en groei ontstaan wat van besonderse waarde is gedurende ’n tyd waarin drastiese ekonomiese agteruitgang plaasgevind het.”

Dit sal ook ’n inkomste bied aan dié arbeidsintensiewe sektore in kwesbare plattelandse gebiede.

Hoewel die landbousektor in die eerste kwartaal met 27,8% gegroei het teenoor die laaste kwartaal van 2019, voorspel die landbousakekamer Agbiz dat die Suid-Afrikaanse ekonomie vanjaar met tot 7,2% kan krimp. Dit is daarom ’n goeie rede om twee deurslaggewende besighede saam te voeg aangesien stabiliteit benodig word om volhoubare groei te bewerkstellig.

“Ons besighede word deur boere besit en gesamentlik kan ons aanhou om winsgewendheid vir ons lede te bring deur kostedoeltreffende dienslewering en die gesamentlike bedinging vir gehalteprodukte,” sê Agenbach.

“Danksy die insluiting van die sigoreibedryf is die omvang en reikwydte van Die Kooperasie meer divers en doeltreffend. Die Kooperasie is afhanklik van sy lede en is suksesvol weens hul deelname en betrokkenheid. Ons ondersteun geleenthede waar ons lede suksesse kan behaal en ander kan leer uit hul vordering.”

Hy voeg by dat die sigoreibedryf ’n groot geleentheid inhou vir sommige landelike areas as ’n aanloklike alternatief vir sommige ontwikkelende boerderybesighede.