Hoewel heuningbye vele vyande in die natuur het, is die mens sy grootste vyand, sê prof. Erik Holm, entemoloog en stelseladviseur by ZZ2. Hy was een van die sprekers op die Durbanville-landbouvereniging se onlangse algemene jaarvergadering.Heuningbye is die mees algemene byespesie in Suid-Afrika en die belangrikste algemene bestuiwers in natuurlike landskappe, asook vir ongeveer 50 insekbestuifde kommersiële gewasse.

Holm het gesê toe hy ’n jong student was, was daar ’n opname deur die byevereniging in die Transvaal waarmee hulle wou bepaal wat byeboere se grootste probleem is. “Die meeste boere het ’n streep deur die lys natuurlike vyande van bye getrek en onderaan ‘mense’ geskryf.”

Hy het gesê byeboere wat bestuiwing as ’n diens lewer, verloor ’n kwart van hul swerms met elke bestuiwing. “Die grootste oorsaak hiervan is verhongering, want gedurende bestuiwing word die landerye en wingerde gepak met bye sodat bestuiwing so doeltreffend moontlik plaasvind. Dit beteken ’n klomp van die bye kry nie kos nie.

“Jy kry ook geen heuning uit bestuiwing nie. Inteendeel, jy moet die bye verskriklik ná die tyd voer, want hulle is almal omtrent dood van die honger.”

Die feit dat byeboere so ’n groot gedeelte van hul swerms met elke bestuiwing verloor, is ook die rede waarom bestuiwing so duur is. “Dit is eintlik ’n baie swak proposisie vir byeboere. Die meeste byeboere doen ná ’n paar jaar nie meer bestuiwing nie.”

Volgens Holm is Suid-Afrika in ’n slegte posisie omdat die land nie selfvoorsienend is wat heuning betref nie. Slegs 25% van die heuning wat verbruik word, word plaaslik geproduseer. Die enigste noemenswaardige gebied waar heuning geproduseer word, is die Wes-Kaap.

‘Dwase’ besluit

Nog ’n tragedie vir bye is dat stadsrade die oprigting van byekorwe in residensiële gebiede verbied. “ ’n By in ’n byekorf is beheerbaar. Jy kan hom toemaak, beheer en sorg dat hy nie aggressief word nie.

“Driekwart van die bye in stede bly onder dakke en vloere. Dit is gevaarlik omdat hulle nie beheer kan word nie. Wanneer hulle warm kry of iets verkeerd gaan, hulle aggressief word en iemand steek, neem die stadsrade nie verantwoordelikheid daarvoor nie. Maar jy word belet om ’n korf te hê wat jy kan beheer.”

Holm het gesê dit is ’n dwase besluit om byekorwe in residensiële gebiede te verbied aangesien dié gebiede ’n reservoir vir heuningbye kan wees omdat daar baie private tuine met blomme is.

Grootste bedreiging

Veilige huisvesting is volgens Holm nog ’n kwessie wat die voortbestaan van bye bedreig, maar die heel grootste bedreiging is landbouchemikalieë. “Weens grootskaalse byevrektes in Amerika as gevolg van ’n produk wat in die landbousektor gebruik word, moet hulle jaarliks swerms van Australië af invoer. Hulle kan nie self meer bye vinnig genoeg teel om in hul bestuiwingsbehoeftes te voorsien nie.”

Hy het gesê Suid-Afrika is nie ver agter Amerika nie. Ons wilde byebevolking het die afgelope paar jaar drasties afgeneem. Die regering het ook ’n rol daarin gespeel. Deur die invoer van byeprodukte uit veral China toe te laat, word “gemorsheuning” ingevoer, asook verskeie siektes wat die verbod op die invoer van byeprodukte uit die land gehou het.

’n Toename in die hoeveelheid paaie en motors is volgens Holm ook ’n bedreiging vir bye aangesien hulle laagvliegende insekte is. Hoëspanningslyne maak dit ook vir hulle moeilik om te navigeer, want dit raak die werking van hul interne magneetkompas en hulle kry nie weer hul nes nie. “Die beskawing werk eintlik téén bye en hulle moet tussen ons probeer oorleef.”

Holm het boere gemaan om versigtig te wees met hul keuse en gebruik van landbouchemikalieë deur byvoorbeeld eerder in die nag te spuit, en om veilige korwe vir die bye uit te sit. “Hulle sal dit self kry, hulle is baie oulik daarmee.”