Van die ernstige besware wat die organisasies het, is die onthulling dat interne stelsels – waarop onder meer bewysstukke opgeberg en geliaseer word – en die stelsel waarvolgens vuurwapens aan polisielede uitgereik word, al maande buite werking is. 

TLU SA sê weens die wanbestuur in die department is daar geen manier om gesteelde amptelike vuurwapens na te spoor nie omdat die stelsels weens wanbetaling afgeskakel is. Terselfdertyd is DNS-bewyse in plaasaanvalle nie beskikbaar nie omdat die stelsel waarin dit gehou word, afgeskakel is en 8 miljoen bewysstukke daardeur verlore is.

Die organisasie het ook besware omdat ’n brigadier tot general-majoor bevorder is tien jaar nadat 98 wapens onder sy bestuur weeggeraak het én omdat speurders nie hul werk kan doen nie as gevolg van swak hulpbronbestuur. Hulle betaal glo self vir toerusting en uniforms. 

AfriForum sê die minister het al herhaaldelik deur sy handelinge, nalatigheid en uitlatings bewys dat hy nie geskik is vir só ’n belangrike rol in ’n land wat deur misdaad lamgelê word nie. Die interne stelsels is glo afgeskakel ná maande se beweerde wanbetalings. Boonop het die polisie glo nie gehoor gegee aan hofbevele en ander gesagstrukture rondom die betaling vir die stelsels nie. 

“Cele se boeliehouding wanneer hy by polisie-operasies betrokke raak, word deur baie van sy ondergeskiktes nagevolg, met die gevolg dat die SAPD gereeld gewelddadig raak met lede van die publiek oor ongegronde redes. AfriForum het al talle burgers bygestaan en ook gehelp om die SAPD vir skadevergoeding te dagvaar,” sê mnr. Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid. 

“Die minister het selfs onlangs in ’n televisieonderhoud erken dat hy nie weet wie die hoof van misdaadintelligensie is nie. Sy houding is traak-my-nieagtig en sy persoonlike sienings oorskadu sy oordeel om sy werk na behore te doen. Die SAPD verkrummel onder sy leiding.” 

Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê die minister se wanbestuur was al in 2011 duidelik toe hy as polisiekommissaris ondersoek en geskors is. “Navorsing het al talle kere bewys hoe ’n swak bestuurder ’n hele besigheid nadelig kan beïnvloed. In die polisie is daar ook vrot appels wat maar net die voorbeeld van hul topbestuur volg en ander lede – wat graag hul plig as beskermers van veilgheid wil nakom – se reputasie beswadder. 

“Ons probleem is nie met die lede wat ons boere bystaan en die ekstra myl loop nie. Dit is met die misdadigers in die mag en die grootste vyand van veiligheid in die land, Bheki Cele.” 

Die veldtog kan by die skakel https://www.tlu.co.za/tsamaea-cele/ gesteun word. 

Cele se kantoor is gekontak vir kommentaar, maar het teen publikasie nog nie kommentaar gelewer nie. Die kommentaar sal by dié berig bygewerk word wanneer dit ontvang word.