Volgens die 2017-sensus van die kommersiële landbou, wat vandag deur Statistieke Suid-Afrika bekend gestel is, het die land 40 122 kommersiële boerdery-eenhede, maar meer as die helfte hiervan is mikro-ondernemings met ’n inkomste kleiner as R2,5 miljoen per jaar.

Die totale getal is effens meer as die 40 079 van die vorige sensus van die kommersiële landbou, wat in 2007 gedoen is.

Altesame 2 610 boerdery-eenhede in die jongste sensus, oftewel 6,5% van plase, word as groot beskou, met ’n jaarlikse inkomste van meer as R22,5 miljoen, en hul bydrae tot die totale inkomste is 67%.

Die werknemers op dié plase verteenwoordig 51,4% van die totale indiensneming.

Die inligting in die sensus handel oor die stand van sake vir boekjare wat van 1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018 geëindig het.

’n Boerdery-eenheid kan bestaan uit meer as een plaas, kleinhoewe of stuk grond wat as ’n eenheid bedryf word en in dieselfde plaaslike munisipaliteit is.

Altesame 26,7% van die plase word as klein gekategoriseer, met ’n inkomste van R2,25 miljoen tot R13,5 miljoen. Hul bydrae tot die totale inkomste is 18,5% en hul werknemers verteenwoordig 26% van die totaal.

’n Verdere 4,6% van plase word as mediumgroot beskou, met ’n inkomste van R13,5 miljoen tot R22,5 miljoen, ’n bydrae van 9,7% tot die totale inkomste, en hul werknemers verteenwoordig 11,5% van die totaal.

Mikro-ondernemings word verder verdeel in diegene met ’n jaarlikse inkomste van R1 miljoen tot R2,25 miljoen, waarvan daar 15,5% is, en diegene met ’n inkomste van minder as R1 miljoen, wat 46,7% is.

Die twee kategorieë van mikro-ondernemings se inkomste was gesamentlik slegs 4,8% van die totale inkomste en hul werkmag verteenwoordig 11,1%.

Uit die totale boerdery-eenhede is die grootste getal plase in die Vrystaat, naamlik 19,8%, maar die Wes-Kaapse landbou sorg vir die grootste deel van die inkomste, naamlik 19,3%, en het ook die grootste werkmag, naamlik 24,7%.

Wie plase bestuur

Die opname het nie vrae oor plaaseienaars ingesluit nie, maar wel oor die demografiese besonderhede van plaasbestuurders.

Dit dui daarop dat 90% van hulle manlik is, 86% is wit, 9% is swart, 3% is bruin en 1% is Indiër.

Altesame 40% van die plaasbestuurders is 55 jaar en ouer.

Kleiner werkmag

Die totale inkomste van die kommersiële landbou in 2017 was R332,8 miljard, vergeleke met die R85,9 miljard in die 2007-sensus.

In teenstelling hiermee het die werkmag met 1,6% verklein van 769 594 op 28 Februarie 2007 tot 757 628 op 30 Junie 2018.

Diversifikasie

Altesame 33,9% van plase was lewendehaweboerderye wat vir 36,2% van die totale inkomste verantwoordelik was.

Gemengde boerderye word op 31,1% van plase bedryf en hul inkomste is 28,6% van die totaal.

Die getal gemengde boerderye het van 2007 tot 2017 met 8,4% gestyg.

Hoewel tuinbouplase net 11,6% van die totale plase verteenwoordig, is hul werkmag die grootste, naamlik 35,5%. Hul bydrae tot die nasionale inkomste is 19,8%. In die 2017-sensus was 9,5% van plase tuinbouboerderye.

Die verbouing van grane en ander gewasse verteenwoordig 21,3% van alle boerdery-eenhede, 13,5% van die totale inkomste en 16,4% van die werkmag.

In die vorige sensus is grane op 34,9% van plase verbou.

Risenga Maluleke
Mnr. Risenga Maluleke, statistikus-generaal. Foto: Carien Kruger