Amptelike statistiek aangaande werkloosheid verloor dikwels trefkrag tensy nadere besonderhede deeglik onder oë geneem word. Een so ’n aspek wat die aandag behoort te trek, is die omvang van werkloosheid onder die jeug.

In Maart vanjaar was meer as 54% van mense tussen die ouderdomme van 15 en 24 in Suid-Afrika werkloos. Met ’n arbeidsabsorpsievermoë van net minder as 13% is daar ander oorsake wat aandag verdien, veral aangesien kenners meen dat tot 50% van die jong mense in daardie ouderdomkategorie dalk nooit in hulle lewe werk sal kry nie. Hulle sal nooit formeel kan werk en geld verdien nie.

Dit lyk na die beste verduideliking van hopeloos, veral as die voorspelde voordele van die sogenaamde demografiese dividend van Afrika as primêre drywer van ontwikkeling en komplementeerbare beleggings so beklemtoon word. Dié jeug kan net ’n bydrae maak indien drastiese stappe geneem word, anders is anargie die voorland in suidelike Afrika.

Landbou onaantreklik

Suid-Afrika se syfers is morbied, maar dalk die beste van die slegste vergeleke met sy onmiddellike bure. Tydens ’n vergadering van Afrika se landbouministers gedurende die Europese en Afrika Unies se konferensie op 2 Julie vanjaar in Rome, het die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se industriële ontwikkelingsorganisasie, mnr. Li Yong, gesê die indiensneming van die jeug moet sentraal staan tot die aanspreek van ekonomiese en demografiese uitdagings in Afrika.

In 2014 alleen het 11 miljoen jong Afrikane die arbeidsmark toegetree, maar baie min van hulle het enige toekoms gesien in die landbou. Hulle is ernstig gestriem deur ’n gebrek aan die nodige vaardighede, lae lone en beperkte toegang tot grond vir produksie, asook behoorlike finansiële ondersteuning. Gesamentlik is hierdie faktore as genoegsame redes gesien om die platteland, en die landbou, te verlaat.

Daarmee saam verdiep die verouderingsuitdaging in die landbou. Te veel “ou” mense bly agter en behalwe vir die verlies aan energie en arbeid, is sulke agtergeblewenes ook nie geneë en/of in staat om tegnologiese vernuwing te omarm vir doeleindes van produktiwiteitverbetering nie.

Die internet bevry

Yong stel ’n vyfpuntplan voor om werkloosheid te verminder en groter jeugbetrokkenheid in die landbou en landelike ontwikkeling aan te moedig. Stap een behels groter betrokkenheid van die jeug by produsente-organisasies en ander landelike ontwikkelinginisiatiewe ten einde hulle te bemagtig vir deelname aan beleiddialoog. Tweedens behoort privaatsektorbeleggings aangemoedig te word vir die vestiging van dinamiese en moderne waardekettings in die landbou en die skep van moderne ondersteunende infrastruktuur.

Derdens, en hier val regerings vas, moet die landelike omgewing van verbeterde dienste soos elektrisiteit, opvoeding en gesondheid voorsien word. Die impak van swak finansiële bestuur van plaaslike owerhede in Suid-Afrika het dus verdere negatiewe gevolge.

Dit is juis hier waar die geduld van die jeug onnodig beproef word en mens het nie baie verbeelding nodig om te dink wat ontsluit kan word in terme van opleiding, sou die platteland behoorlike en bekostigbare toegang het tot die internet nie. Dit sal aan die vierde vereiste voldoen omdat dit noodsaaklike ekonomiese, sosiale en politieke bande met die jeug in die platteland skep en in stand hou.

Toegang tot die internet en gepaardgaande moderne kommunikasietegnologie, die vyfde vereiste, sal die plaaswerk die aantreklikheid kan gee wat dit verdien en markte ontsluit. In hierdie opsig is veral lande aan die suidpunt van die vasteland arm, vergeleke met ander Afrikalande in die noorde. Die geografiese dividend is onderbenut in terme van bemagtiging van die jeug om self planne te kan maak wat vir hulle kan werk - en dit omvat meer as om beeste op te pas.