Die organisasie het in ’n brief aan me. Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, kapsie gemaak teen ’n kennisgewing op 17 Januarie dat besproeiingsboere binne 30 dae, op eie koste, watermeters moes installeer en lesings moes begin deurgee.

“TLU SA stem saam dat watergebruik in die land beter gemonitor moet word,” sê mnr. Steven Vermaak, voorsitter van die organisasie se waterkomitee, in ’n verklaring. “Maar die gesloer met die vestiging van watergebruikersverenigings is ’n dwingender saak wat eers aandag moet kry en sal bydra om die gebruik van water doeltreffender te bestuur.

“Ons het in die skrywe (aan Sisulu) versoek dat die installering van meters dus uitgestel moet word totdat die verenigings gevestig is.”

Aansoeke sloer vir vyf jaar

Verskeie aansoeke vir die vestiging van die verenigings is volgens TLU SA nog nie deur die departement verwerk nie, hoewel sommige al meer as vyf jaar gelede ingedien is.

“TLU SA meen dat die watergebruikersverenigings ’n belangrike rol kan speel om die dispuut tussen TLU SA-lede en die departement oor die betaling van fakture op te los,” sê Vermaak.

“Dit sal ook bydra om die bestaande, lang kommunikasielyn te verkort en probleme met waterlewering-rekeninge vinniger op te los,” sê hy.

Koste van meters

Volgens TLU SA kos ’n enkele 50 mm-watermeter wat aan die departement se spesifikasies voldoen, sowat R18 000, maar hoe groter die in- en uitlaat, hoe duurder die meter.

“Die gehalte van die water waarmee besproei word, is ook van só aard dat filters aangebring moet word, wat die koste verder sal opstoot. Sommige besproeiingsboere sal tien of meer meters moet aanbring,” luidens die verklaring.

Boonop is daar nie genoeg watermeters in die land beskikbaar nie.

Die nuwe vereistes geld vir besproeiingsboere wat nie lid is van ’n besproeiingsraad of watergebruikersvereniging nie. Die departement verwag van boere om maandeliks lesings in ’n voorgeskrewe formaat aan hom te stuur.

Vermaak sê die meting van watergebruik is die staat se verantwoordelikheid. “Die owerheid kwyt hom baie swak van die taak om watergebruik te bestuur.”