Die rivier voed die Waboomrivier, wat op sy beurt in die Kougarivier inloop. Mnr. Riaan Strydom, ’n boer van die omgewing wat dié foto’s geneem het, sê baie water gaan in die droë rivierlope verlore, en afloopwater uit die gebied het nie die Kougadam gehaal nie.

Hy sê met opvolgreën wat met druktyd voorspel is, kan die water wel die dam haal. Die Langkloof is een van die hoofproduksiegebiede van appels en pere in Suid-Afrika. Volgens Hortgro is die naasmeeste peerbome en die vierde meeste appelbome in Suid-Afrika in die ooste van die Langkloof geleë. Lees meer op bl. 16.

LISTERIOSE KWYN

Die genoteerde kosverwerker Tiger Brands sê voorbereidings om sy fabrieke te heropen ná die listeriose-uitbreking van die afgelope jaar, is “ver gevorder”, berig Business Day. Dit volg ná dr. Aaron Motsoa- ledi, Minister van Gesondheid, se aankondiging verlede week dat die uitbreking amptelik verby is.

Tiger Brands het vroeër vanjaar vier vleisverwerkingsaanlegte gesluit en landwyd produkte onttrek teen ’n koste van R365 miljoen. Hy het ook R50 miljoen per maand verloor weens die staking in produksie. Die maatskappy sê hy het nou saamgewerk met nasionale en internasionale Listeria-kenners om insig te kry oor die Listeria-geval by sy Polokwane-fabriek, en het voorstelle vir verbeterings in werking gestel.

SOVEREIGN BEMAGTIG

Suid-Afrika se derde grootste hoenderprodusent, Sovereign Foods, het ’n voorkeurverskaffingsooreenkoms met Cultiver Investments in Limpopo gesluit om dagoudkuikens by dié onderneming, wat in swart besit is, te koop. Die ooreenkoms sluit in dat Sovereign bestuursteun, die oordrag van boerderyvaardighede en kredietgeriewe aan Cultiver sal bied.

Die Regering doen reeds geruime tyd ’n beroep op die pluimveebedryf om te transformeer. Die maatskappy sê in ’n verklaring Cultiver is ’n begunstigde van die Regering se Plas-program vir die verkryging van grond, en Sovereign raam dat Cultiver oor die volgende tien jaar potensieel ’n omset van R659 miljoen kan behaal.

STAKING BY OBP

Sowat 30% van die personeel van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het van 31 Augustus tot 6 September gestaak. Hulle het ’n salarisverhoging van 7,25% gevra teenoor die 7% wat OBP aangebied het. Die werkers is lede van die Nasionale Unie vir Staatsdiens- en Geallieerde Werkers (Nupsaw).

Daar is kort voor druktyd ooreengekom op ’n verhoging van 7,25% vir werknemers wat gemiddeld presteer en 7,5% vir dié wat bogemiddeld presteer. Volgens dr. Bethuel Nthangeni, waarnemende hoofbestuurder van OBP, het die maatskappy “strategiese gebeurlikheidsplanne” gehad rakende die ontwrigting van produksielyne.

WOL GEDY

Die Cape Wools Merino-aanwyser het op die derde veiling van die nuwe seisoen met 6,6% (1 573 pun- te) gestyg. Die prys het tot R253,82/kg (skoonwol) gestyg. Die Australiese EMI het met 1,6% gestyg. Die goeie resultate was hoof- saaklik vanweë ’n verswakkende rand, sowel as die volgehoue goeie vraag na lang en fyn Suid-Afrikaanse Merinowol.

Pryse het in alle mikronkategorieë gestyg, volgens Cape Wools. Die rand was R15,51 teenoor die Amerikaanse dollar en R17,97 teenoor die euro. Die rand was 7,9% swakker teen die dollar en 7,9% laer teenoor die euro vergeleke met die vorige veiling. Altesaam 99,1% van die 11 225 bale wat op die veiling aangebied is, is verkoop. Die volgende veiling vind op 19 September plaas.

BOETIEKdranKIE

Die Nuy-wynkelder tussen Worcester en Robertson het onlangs die jongste wynonderneming geword wat boetiekjenewer by sy produkreeks voeg. Nuy se Mastery Craft Gin en Nuy Legacy Craft Gin is albei handgemaak en sal in klein hoeveelhede beskikbaar wees.

Met die bekendstelling was daar slegs 2 500 bottels Mastery en 1 000 bottels Legacy beskikbaar. Die kelder sê hy gebruik slegs vrugte en kruie om dié jenewer te maak. Vanweë die natuurlike plantolies wat tydens distillasie vrygestel word, kry die drankie ’n blou skynsel sodra daar water of tonikum bygevoeg word.

Die Mastery kos R375 per bottel, en die Legacy R425 per bottel.

in ’n blik

GOEIE DEKKING. Daar was groot belangstelling in dekgewasproewe op Overberg Agri se onlangse boeredag op Roodebloem, waar boere nuwe kultivars kon besigtig en sien hoe verskillende mengsels dekgewasse op die land vaar.

Kundiges van die Wes-Kaapse departement van landbou en die saadmaatskappye Agricol, Barenbrug en K2 Saad was daar om vrae te beantwoord. Me. Lisa Smorenburg van die Wes-Kaapse departement van landbou se proewe van die afgelope drie jaar met verskillende dekgewasse toon dat graanopbrengste hoër is ná dekgewasse.

Sy beveel aan dat boere hul dekgewasmengsel aanpas by die grondontleding. Mnr. Jaco Kellerman, landboukundige van Barenbrug, sê hy dink nie dekgewasmengsels met tien spesies of meer is die geld werd nie. Op die foto is nuwe kanolakultivars. FOTO: AMELIA GENIS

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.