Meer as 500 mense van reg oor die land het dié historiese tweedaagse beraad bygewoon, waar 65 sprekers voorleggings gemaak wat in sewe tale getolk is.

Chris Burgess (links), hoofredakteur van Landbouweekblad, het die eerbewys opgedra aan die sprekers op die grondberaad, wat volgens hom ’n toonbeeld is van die Suid-Afrika wat ons kan wees. “Hulle is mense met ’n diep geloof wat hulself nie deur probleme laat afskrik nie.”

Hy het ook die rol van gewone Suid-Afrikaners in die gronddebat uitgelig en gesê die beraad het ’n unieke platform geskep waarop verskillende belanghebbendes in die landbou met mekaar kon skakel. Hier is hy saam met mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA. FOTO: GRAAN SA

D-DAG VIR GROND

Die grondwetlike hersieningskomitee sal na verwagting teen 15 November sy verslag afhandel oor die wenslikheid van ’n verandering aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Die verslag, wat ’n aanbeveling sal bevat oor die rigting wat die Parlement met dié kwessie moet inslaan, sal dan hopelik teen 16 November in die amptelike parlementêre dokumentasie verskyn, waarna ’n debat oor die verslag na verwagting op 27 of 28 November in die Nasionale Vergadering sal geskied.

Die Nasionale Vergadering sal dan moet besluit of die verslag aanvaar of afgekeur gaan word. ’n Tweede ronde mondelinge verhore geskied vandeesmaand nadat 42 organisasies en individue vroeër aanbiedings gedoen het. Lees meer by bit.ly/2PCa68Y

GROOT GESKENK

Mnr. Patrice Motsepe, mynmagnaat en een van die rykste mense in Afrika, het R100 miljoen bewillig vir volhoubare landboutransformasieprojekte. Hy het dit bekend gemaak op ’n vergadering tussen Agri SA, al die land se tradisionele leiers, uitvoerende hoofde van banke, die leierskap van Cosatu en ander belanghebbendes in die ekonomie.

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, het na afloop van die vergadering gesê stamowerhede in Suid-Afrika beheer 17 miljoen ha grond, waarvan 14 miljoen ha vir boerdery ingespan kan word. Sowat 2,5 miljoen ha is bewerkbare grond en 1 1,9 miljoen ha is geskik vir weiding.

HEUNINGPOT

’n Senior amptenaar in die Departement van Water en Sanitasie is geskors omdat sy geweier het dat ander projekte in die minister se kantoor geld uit haar eenheid se begroting van R12 miljard gebruik.

Business Day berig die vakbond Nehawu, wat me. Zandile Makhathini, adjunk-direkteur-generaal vir die nasionale waterhulpbron-infrastruktuur, in haar regsgeding teen die departement verteenwoordig, sê daar is wyd in die departement na haar afdeling se begroting verwys as die “heuningpot”.

Makhathini is op 2 Oktober vir ’n tweede keer geskors, nadat sy verlede jaar vir vier maande geskors was sonder dat ’n klagstaat op haar beteken is. Dié keer is daar vier klagtes van wangedrag teen haar wat verband hou met die Giyani- waterprojek in Limpopo.

TIGER KOM BY

Die genoteerde kosprodusent Tiger Brands sou op 12 Oktober sy Germiston-aanleg vir waardetoegevoegde vleisprodukte heropen, luidens ’n aankondiging op die JSE-nuusdiens. Daarmee sou die hy die vervaardiging van kookgereedprodukte, soos spek, bevrore worsies en salami, hervat.

Dit volg nadat die Ekurhuleni-gesondheidsdepartement ’n sertifikaat van aanvaarbaarheid aan die aanleg toegeken het. Die aanleg is gesluit weens die uitbreking van listeriose. Strukturele opgraderings aan van die oorblywende geslote afdelings van Tiger se Polokwane-fabriek, wat verlede maand produksie hervat het, sal na verwagting vroeg volgende maand voltooi wees, waarna die Departement van Gesondheid dit sal ondersoek.

ENT JOU PERDE in

Die inentingstydperk vir Afrika-perdesiekte eindig op 31 Oktober. Perde-eienaars in die moniterings- en siektevryesones van die Wes-Kaap moet by die staatsveearts toestemming kry om hul perde te laat inent, en dié toestemming kan elke jaar slegs van 1 Junie tot 31 Oktober toegestaan word.

Mnr. Alan Winde, die Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, sê die inenting verminder die risiko van uitbrekings en verseker dat handelsvennote wat in Suid-Afrikaanse perde belang stel die handelskanale vir perde uit Suid-Afrika sal oophou. Hy sê danksy die voldoening aan die wetgewing was daar vir twee opeenvolgende jare geen voorvalle nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.