Volgens die Suid-Kaap Forum is ’n Oryx-helikopter van die lugmag, ’n vliegtuig, twee waterbom-vliegtuie en ’n opspoorder-vliegtuig gebruik in die operasie, asook 131 brandbestryders van Werk met Vuur, plaaslike munisipaliteite en die brandbeskermingsvereniging.

’n Helikoptervlieënier van Werk met Vuur het verlede Dinsdagoggend omgekom toe sy helikopter neergestort het tydens die operasie. Die Hessequa-munisipaliteit het kort voor druktyd aangekondig hy gaan aansoek doen dat die streek tot rampgebied verklaar word.

WYN-TERUGSLAG

Miljoene rande se skade is aangerig in ’n brand by Stellenbosch Vine- yards. Dit is ’n tweede terugslag in minder as ’n maand vir die wynlandgoed Kleine Zalze wat vroeg in Oktober ’n aanleg in nóg ’n brand verloor het. Stellenbosch Vineyards, wat onder meer die Arniston Bay-, Welmoed- en Versus-handelsmerk produseer, behoort grotendeels aan die Franse AdVini-groep.

Sowat 80% van sy wyn is vir die uitvoermark bestem. Mnr. Stuart Grobbelaar, kommunikasiebestuurder by die Stellenbosse munisipaliteit, sê die verwoeste pakhuis het palette, bottels, wyn en botteleringstoerusting bevat.

waar is die eisers?

Weens onopspoorbare of vermiste begunstigdes van grondhervorming kon die Kommissie vir die Herstel van Grondregte nie sy doelwitte vir die eerste kwartaal van die boekjaar bereik nie. Volgens die Nasionale Tesourie se bestedingsraamwerk op mediumtermyn het die kommissie in die eerste helfte van die 2018-’19-boekjaar 266 eise afgehandel van 991 wat die mikpunt vir die jaar is.

Die 26,8%-prestasiekoers is ook onder die beoogde doelwit vir die eerste kwartaal. In dieselfde tydperk is net 10 197 ha grond van die jaarlikse mikpunt van 81 000 ha aangekoop. Die 12,6%-prestasiekoers is weens die aantal koopaanbiedinge van die grondwaardeerder-generaal wat verwerp is, asook die vertraging in die aankoop van 15 plase wat oor 21 927 ha strek.

die jse moet groener

Genoteerde maatskappye moet verplig word om in veel meer besonderhede verslag te lewer oor die invloed wat hul bedrywighede op die omgewing en maatskaplike welstand van omliggende gemeenskappe het. Só sê die Sentrum vir Omgewingsreg in ’n voorlegging aan die JSE oor die hersiening van noteringsvoorwaardes wat tans oorweeg word.

Die groep vra onder meer dat maatskappye spesifiek moet verslag lewer oor die wetlike toestemming wat hulle benodig om sake te doen, en om te bevestig of die vereiste toestemming verkry is. Mynmaatskappye moet inligting bekend maak oor die geld wat hulle beskikbaar het om skade aan die omgewing te herstel.

Verder moet klimaatrisiko’s, wat materiële finansiële risiko’s aan besighede verteenwoordig, ingesluit word in finansiële verslae. Die rol en verantwoordelikhede van die direksie wat omgewings- en maatskaplike kwessies betref, moet duidelik gedefinieer word.

hoes vir hoender

Witbroodmeel, koekmeel en sanitêre doekies is van 1 April aanstaande jaar af BTW-vry, maar van die drukgroep Fairplay se pleidooie om BTW-vrystelling van hoendervleis het niks gekom nie. Die nuwe lys BTW-vrye goedere is in die bestedingsraamwerk op mediumtermyn bekend gemaak.

’n Paneel is vroeër vanjaar gelas om ’n lys goedere saam te stel wat druk op veral lae-inkomste-huishoudings kan verlig, nadat die BTW-koers in April vanjaar tot 15% verhoog is. Mnr. Tito Mboweni, Minister van Finansies, het gesê hy het altesame 3 299 twiets gekry het oor items wat belastingvry moet wees.

Die verlies aan inkomste wat met drie gekose items geasso- sieer word, is na raming R1,2 miljard.

KANKERBESLISSING BLY

’n Kaliforniese regter het Monsanto, wat nou deur Bayer besit word, se appèl van die hand gewys in die opspraakwekkende hofsaak waarin ’n jurie bevind het die maatskappy se bekende onkruiddoder Roundup veroorsaak kanker.

Die jurie het $289 miljoen aan ’n skoolopsigter, mnr. Dewayne Johnson, 46, toegeken ná hy gesê het Monsanto het hom nie gewaarsku oor die risiko’s verbonde aan die produk nie. The Guardian berig die regter het egter die skadevergoeding verminder van $289 miljoen tot $39 miljoen.

As hy nie met hierdie toekenning tevrede is nie, sal die verhoor van voor af moet begin.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.