Cape Business News berig LTP koop en verwerk die meeste van die land se tabakoes van nagenoeg 100 kommersiële boere en sowat 150 opkomende boere, en wys op die daling in verkope van 15,2 miljard sigarette in 2016 tot ’n geraamde 11,5 miljard in 2018, “uitsluitlik weens die immerstygende beskikbaarheid van onwettige sigarette vir gemiddeld R10 per pakkie”.

INFLASIE LAER

Verbruikersprysinflasie was in Desember 0,7 van ’n persentasie- punt laer as in November, teen 4,5%. Volgens Statistieke SA was die gemiddelde verbruikersprysinflasie vir die hele 2018 4,7%, wat 0,6% laer is as die 5,3% van 2017.

Die bydrae wat inflasie op kos en nie-alkoholiese drank tot die totaal gelewer het, het gedaal van 0,6 van ’n persentasiepunt in November tot 0,5 in Desember. Die bydrae van vervoerkoste het gedaal van 1,5 persentasiepunte in November tot 0,9 in Desember, grootliks weens die daling in die brandstofprys. Op ’n jaargrondslag was vervoerin- flasie 6% hoër.

HOF SÊ WEER NEE

Die mynmaatskappy Atha-Africa het misluk in sy aansoek om verlof tot appèl teen die besluit van die Noord-Gautengse Hooggeregshof verlede jaar om magtiging vir ’n steenkoolmyn binne ’n beskermde gebied tersyde te stel. Die myn, naby Wakkerstroom, sou binne die Mabola-vleilandgebied geleë wees en sou die watertoevoer van die vleiland én boerderye in die gebied in gedrang bring.

Die hof het die aansoek terugverwys na die Minister van Omgewingsake en die Minister van Minerale Hulpbronne op grond daarvan dat hulle nie die aansoek behoorlik oorweeg het nie en belangrike oorwegings buite rekening gelaat het in hul besluit. Die saak is behartig deur die Sentrum vir Omgewingsreg namens agt gemeenskapsorganisasies wat die myn teenstaan.

ZIM-BOERE LY

Hoewel gewelddadige protesoptrede in Zimbabwe teen die 150% brandstofprysstyging in dié land grotendeels tot die stede beperk is, ly die land se boere ook daaronder. Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreld-boereorganisasie, sê die situasie kan veroorsaak dat die groot graantekorte wat vanjaar verwag word, net groter sal word.

“Insette kom nie op plase uit nie en boere loop die laat planttyd ook vanjaar mis,” sê hy.

Al het pres. Emmerson Mnangagwa verlede jaar ná sy bewindsoorname groot landbouhervormings belowe, is daar volgens De Jager net een 99 jaar-huurkontrak vir ’n plaas toegestaan.

NUWE MPO-EKONOOM

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) het mnr. Bertus van Heerden aangestel as sy nuwe hoofekonoom. Hy vervang dr. Koos Coetzee, wat ná ’n loopbaan van 23 jaar afgetree het.

Van Heerden het ’n meestersgraad in landbou-ekonomie, en het volgens die MPO meer as 30 jaar ervaring in verskillende hoedanighede in die landbou, onder meer senior bestuursposte, die interpretasie van statistieke en bedryfsnavorsing. Hy sal ook optree as projekbestuurder van MelkSA se markte-en-ekonomie-projek.

Fees van vulletjies

Die Cape Premier jaarlingveiling, wat jaarliks deur Cape Thoroughbred Sales by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied word en as een van die perdebedryf se eksklusiefste veilings beskou word, het 23 Januarie plaasgevind.

Honderde volbloedvulletjies word jaarlikste koop aangebied, en pryse van meer as R1 miljoen is nie ongewoon nie. Die vulletjie wat die hoogste prys gehaal het, was ’n jaaroudmerrievul van Klawervlei Stud. Sy is vir R4 miljoen verkoop aan mnr. Anthony Stroud, een van die internasionale kopers by die veiling.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.