Boere in die distrik Malmesbury juig nadat hulle meer as 50 mm reën in die twee weke tot 8 Mei ontvang het, terwyl mnr. Marinus van der Merwe, ’n vrugteboer by Vyeboom, sê hy het op 8 Mei 40 mm reën gekry. Mnr. Johann Loubser, aartappelboer van die Sandveld, sê hulle het nog nie regte reën gekry nie.

“Ek het onlangs by die Clanwilliamdam verbygery. Dit is naar om dit te sien as dit slegs 4,5% vol is. Die boere na Lutzville se kant toe en verder af teen die Olifantsrivier kry regtig swaar, want daar is nie meer water nie. Hier by ons in die Sandveld het daar al ’n paar buitjies uitgesak, maar nog niks meer as 15 mm op ’n slag nie. Ons het nog nie ons gewone 50 mm reënbui sedert die Paasnaweek gehad nie.”

BEKOMMERD

Mnr. Jan du Toit van De Straadt-boerdery in die noordweste van die Koue-Bokkeveld begin nou bekommerd raak. “Die weer is deurmekaar en net so is die uitsprake van die kenners. Die weer het begin Mei mooi opgesteek en die regte tekens was daar, maar toe draai die wind wes en die weer is suid van ons deur. Dit het net 8 mm gereën.

“Dit is beter as niks en ons is dankbaar daarvoor, want dit maak die opvanggebied en aflope darem natter, maar dit is steeds nie daardie goeie 50 mm of 60 mm waaraan ons laat April, vroeg Mei gewoond is nie.” In die Suid-Kaap het daar ook nog nie veel reën geval nie.

“Dis kurkhoringdroog by ons,” sê mnr. Pieter Janse van die plaas Kleinbosheuwel tussen Heidelberg, Witsand en Riversdal. “Ons kry 60% van ons reën in die winter en ons gemiddelde reënval op lang termyn is 400 mm per jaar. Verlede jaar het ons skaars by 300 mm uitgekom en slegs 140 mm daarvan was in ons groeityd, wat 50% van die normale 280 mm reën in die groeityd is. Ons het tot dusver vanjaar nog net 50 mm reën gekry, waarvan die grootste bui 14 mm opgelewer het.”

RY WATER AAN

Mnr. Abrie de Wet van GAF-boerdery by Caledon sê dis daar baie droog. Hy is halfpad geplant. Verlede jaar was die planttyd ook droog, maar hulle het darem op die ou end ’n gemiddelde oes behaal. Hy is bekommerd omdat die rivier waaruit hulle water pomp vir hul vee en vir die besproeiing van graan opgedroog het.

Hulle ry nou water aan uit boorgate op die plaas. Mnr. Robert Bosch van die landbouchemiese maatskappy Viking op Caledon sê vanjaar is die vierde jaar dat dit so droog met planttyd is. Omdat dit nog nie juis gereën het nie, kon boere nie vooropkoms onkruidbekamping toepas nie. Hy is ook bekommerd oor graansaad wat begin ontkiem het met die 5 mm tot 16 mm reën van twee weke gelede, maar wat dalk nie gaan oorleef as dit nie gou weer reën nie.

SWARTLAND

Mnr. Cobus Bester van UD-boerdery by Moorreesburg sê hulle is nog besig om te plant, maar het nou reën nodig. Hulle het einde April 35 mm reën gekry, en daarna bietjies-bietjies. Hy sê die reën val baie wisselvallig, maar hulle plant ten minste vanjaar in vog, in teenstelling met verlede jaar toe dit met planttyd “kurkdroog” was.

Asof dit nie genoeg is nie, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens ’n vroeë waarskuwing uitgestuur dat die moontlikheid bestaan dat ’n El Niño-verskynsel later vanjaar gaan ontwikkel. Vir die winter voorspel die weerdiens hoër as normale temperature in die suidweste van die land, asook goeie reënval vir die winterreënstreek. Die oostelike dele van die land gaan laer as normale wintertemperature ervaar, het die weerdiens in die voorspelling gewaarsku.

Weerkaart.