“Die wolke het ons uiteindelik gevind!” het ’n baie opgewonde me. Marie Vermeulen laat weet. Sy en haar man, Danie, boer tussen Carnarvon en Van Wyksvlei in die Bo-Karoo. Die gebied word al die afgelope ses jaar deur erge droogte gewurg.

“Ons het 15 mm hier by ons gehad. Al is dit glad nie genoeg om regtig ’n verskil te maak nie, is dit fantasties om te sien die reën weet weer waar ons is. Ons glo dit sal gou weer kom.”

Vermeulen vertel dat haar tuin Maandag skielik vol skoenlappers was en dat sy toe gedink het iets mooi is op pad.

“Die skoenlappers het nie gejok nie. Ons het nie baie reën gehad nie, maar ander boere in die omgewing het 30 mm gemeet.”

By mnr. Lukie Steenkamp, ook in Carnarvon-omgewing, het vloedlande wat jare kurkdroog gelê het, vol water geloop.

reën karoo
Reënwater by Carnavon. Foto: Lukie Steenkamp
reën karoo
Reënwater by Carnarvon. Foto: Lukie Steenkamp
karoo reën
Mnr. Danie Vermeulen staan in die reën

“Die lande is blokvol water, dit is prentjiemooi. Die water loop nog, dit is verskriklik lekker. Ek en my broer gaan nou ons koelboks vol bier maak en dan gaan ons uitval. Ons gaan vandag hier teen die see kom sit.”

Hoewel baie boere rondom Carnarvon, Britstown en Van Wyksvlei van 20 mm tot 40 mm aangeteken het, het dit meer streperig wes van dié gebiede gereën. Tussen Carnarvon en Williston het mnr. Juan Louw op sekere dele 22 mm gehad en op ander net 10 mm. Bure van hom het heelwat minder en amper geen reën ontvang nie. Hy sê dit is die eerste keer in agt jaar dat dit so vroeg in die somer reën. “Dit maak ons baie opgewonde. Al het ons nie almal veel gekry nie, lyk dit darem soos ’n goeie begin vir die seisoen.”

Op die plaas Brulpadda, halfpad tussen Williston en Brandvlei, het die Krügels en hul skape groot geskrik toe ’n storm 65 mm oor hulle uitgooi.

“In die klompie jaar dat ons hier boer, het ons nog nie so iets beleef nie,” vertel me. Bea Krügel.

“Ons dogtertjie Mika (2) was vir ’n ruk heel histeries. Veral toe sy hael op die dak hoor. Tot die skape was verward. Hulle is in voerkrale om die huis en toe ons sien die krale begin onder water loop, was ons nogal benoud. Ons arme skape ken nie reën nie en weet nie hoe om te swem nie.”

Sy sê al was daar voorspellings van moontlike buie het hulle eintlik glad nie reën verwag nie.

“Ons is nou al so skepties oor voorspellings dat ons niks glo nie. ’n Mens het al begin wonder of dit nog kan reën. Daar is so baie praatjies dat dit al hoe meer woestyn raak hierlangs dat jy dit so half aanvaar. Al is ons nou ongelooflik bly vir hierdie reën moet mense ook net besef dat die droogte nog geensins gebreek is nie. Dit gaan tyd kos en nog reën. Sommer heelwat.”

reën karoo
Reënwater staan by Williston. Foto: Jaco van Niekerk
Karoo reën
Reën by Kenhardt. Foto: Jeanette van der Westhuizen
reën karoo
Reënwater by Williston. Foto: JF van Wyk

Kalahari

Ook in groot dele van die Kalahari het dit goed gereën. Presies ’n jaar gelede was Landbouweekblad by die Kotze-familie, tussen Olifantshoek en Upington, waar die wêreld soos ’n woestyn gelyk en skape op hope vrek gelê het.

“Nou sal julle hierdie veld nie herken nie,” sê mnr. Coenraad Kotze jr.

Hulle het sedert begin November al van 70 mm tot 100 mm gemeet.

“My skoonpa hou al lank boek van die reën hier en die afgelope vyf jaar het ons nie ’n enkele milimeter in November gehad nie. Sover ek weet, het dit net in 2006 meer in November gereën as vanjaar. Dit is besonders.”

Kotze sê die westelike dele van die Kalahari het heelwat minder reën gehad.

In die arme Boesmanland gaan dit ook nog beroerd. Vanuit die Pofadder-omgewing laat weet me. Alida van Niekerk dat daar nog geen teken van reën was nie. “Ons hoop nog, maar dit gaan regtig sleg met ons streek.”

Me. Chrismari van der Westhuizen sê haar hoop is eintlik al opgedroog. By hulle op Uitspankolk, in die middel van die Boesmanland, is daar nie “vrolike vooruitsigte vir Kersfees nie”.

“Dit is ’n mal gejaag om iets vir die diere te kry om te eet. ’n Mens voel angstig vir wat voorlê. Die droogte is die Grinch en ek is sonder Desember-vreugde.”