Komiteelede van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het hul kommer uitgespreek dat só ’n belangrike bate van die land gesteel word en het bevraagteken hoe dit moontlik is dat dit nie beskerm kan word nie, veral met al die tegnologie wat deesdae beskikbaar is.

Magadlela het gesê sekere dierespesies is in hoë aanvraag wêreldwyd, soos die Boerbok, wat verskeie name het, insluitend Australiese Redhead en Texas Redhead. Die genetiese materiaal van die Boerbok is nie met die LNR se toestemming beskikbaar gemaak nie. Daar is sekere regulatoriese prosesse wat gevolg moet word om die genetiese materiaal uit die land te neem, maar ongelukkig word genetiese materiaal gesteel en verlaat dit só die land. “Ons probeer ons bes om die genetiese materiaal onder slot en grendel te hou, maar ons is nie in staat om almal te beskerm nie.”

Hy het benadruk dat die genetiese materiaal gesteel word sonder dat die LNR daarvan weet en dat daar nie veel is wat daaromtrent gedoen kan word nie.

Mnr. Noko Masipa, DA-LP, het gesê daar is ’n taamlike vraag na goeie genetiese materiaal in Amerika en China en plaaslike boere sukkel om hulp van die departement te kry. Dit is ook onder sy aandag gebring dat boere in Australië en Nieu-Seeland die genetiese materiaal wat van Suid-Afrika bekom is, aan ander lande verkoop.

Me. Patricia Mahlo, ANC-LP, het dit duidelik gemaak dat dit nie goed genoeg is vir die LNR om te sê hy kan niks aan die situasie doen nie. Met moderne tegnologie kan ’n mens selfs tot in jou huis opgespoor word.

Dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, het verder verduidelik dat die diefstal betrekking het op die steel van inheemse genetiese materiaal, soos teelmateriaal, wat in die hande van boere is en verkoop word of tussen lande beweeg word. Die LNR het nie beheer hieroor nie. Die ander tipe diefstal is genetiese materiaal wat die LNR ontwikkel het en wat sy weg vind na ander dele van die wêreld. Die LNR kon al van hierdie materiaal opspoor. Materiaal wat nie behoorlik deur die LNR gedurende die 1994-’95-boekjaar goedgekeur is om die land te verlaat nie, is al in Australië gevind.

Inbrake

Met toenemende werkloosheid in die land, word voorvalle van vandalisme, diefstal en grondbesetting by die LNR se persele ervaar, het Moephuli gesê. Dit dwing die entiteit om te besin oor die lewering van sommige van sy projekte wat inbreuk op die vervulling van sy mandaat kan maak.

Hierdie is die jongste van die instelling se probleme. Dit is bekend dat die LNR ’n finansiële omkeerplan in werking moes stel om te keer dat die instelling sink. Deel van die plan is om onder meer binne sowat twee tot drie boekjare sy personeelkoste met R320 miljoen te verminder en ook van die geboue wat hy nie gebruik nie, ontslae te raak. Die entiteit het vroeër ook al uitgewys dat kabeldiefstal hul geldelike situasie vererger, want dan moet dieselkragopwekkers gebruik word.

Die LNR het van die gevaarlikste virusse in sy laboratoriums. Dit moet in spesiale vrieskaste gehou word. Verskeie voorvalle van kabeldiefstal het al buite die LNR-Onderstepoort Veeartsenynavorsingskampus in Pretoria plaasgevind en dit het bedrywighede beïnvloed.

Moephuli hoop noudat dié kampus as ’n nasionale kernpunt erken word, sy bates beter beskerm sal word.