Die Suid-Afrikaanse Petroleumbedryfsvereniging (Sapia) bevestig dat dié reeks voorvalle sedert April brandstofvoorsiening aan die binnelandse mark ernstig kortwiek. Sapia gee die versekering dat daar voldoende voorraad is om aan huidige vraag te voldoen, maar dat die onderbrekings in die pyplynnetwerk tot vertragings in aflewering en tekorte in sommige gebiede lei. Padvervoer van diesel na die binneland is ’n logistieke probleem weens ’n opeenhoping van vragmotors in die hawe.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê na afloop van ’n vergadering met met Sapia die situasie lyk onveranderd en die tekorte sal nog ’n paar weke voortduur. “Die sekuriteit van hierdie pyplyn is beslis ’n massiewe probleem en moet in die parlement bespreek word.”

Oliemaatskappye

Volgens Purchase beskuldig sommige belanghebbendes die oliemaatskappye wat al die raffinaderye op een slag toegemaak het omdat hulle dit nie winsgewend kon bedryf tydens die aanvanklike inperkingsperiode nie. “Dit is baie moeilik om presies te weet wat elkeen van hierdie faktore se bydrae tot die groter probleem in die voorsieningsketting is.”

Purchase sê van die gebiede wat steeds aansienlike tekorte ervaar is in die Vrystaat en Noordwes en tot ’n mate Limpopo. “Selfs in die Wes-Kaap is daar nou al enkele probleme, maar in Mpumalanga lyk dit nou beter met voorsiening vanaf die Witbank-depot. Voorsieningsprobleme wissel van maatskappy tot maatskappy na gelang van die verskaffer, maar tog lyk dit of die landbou voorrang begin geniet.”

Hy sê Natref by Sasolburg, wat veral Kroonstad en Klerksdorp voorsien, was die eerste week van Julie weer in werking. Sodra voldoende voorraad opgebou is, sal die diesel deur die onderskeie pyplyne na dié twee depots gepomp word. Daar word reeds diesel met tenkwaens verskaf.

Mnr. Corné van der Walt van Agri Petroleum, ’n grootmaatverskaffer in Bothaville, sê die tekorte duur nou bykans twee maande. Hoewel hy nog nooit geen brandstof beskikbaar gehad het nie, kan hy nie aan boere die hoeveelheid voorsien wat hulle graag wil hê nie.

Hy sê dit sou baie erger gewees het as alle boere in hierdie stadium volstoom geoes het. “Die terugvoer wat ek kry, is dat daar nog mielies is wat nat is en daar is beslis nog boere wat nie kon begin het om hulle witmielies te stroop nie.”