Op een nag in Desember is by NWK se saaddepot in Lichtenburg 300 sakke sonneblomsaad gesteel. Me. Susan Kemp van die Agricol-agentskap by die depot sê die inbraak was tussen 02:00 en 05:00. Die diewe het verby mieliesaad gestap om sowat 300 sakke sonneblomsaad, wat R2 260/sak kos, te steel.

“Die skade was sowat R700 000. Dit lyk of die inbraak haarfyn beplan was. Die diewe moes ’n maklike afsetgebied vir die saad gehad het,” meen sy.

Mnr. Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê by Lichtenburg, Gerdau en Sannieshof, asook verskeie ander plekke was daar die afgelope drie tot vier maande talle voorvalle van saaddiefstal en dit raak nou ’n al hoe groter probleem. Hy sê daar was enkele gevalle van mieliesaad, maar die klem lê veral op die diefstal van sonneblomsaad.

“Ek weet nie of meer mense weens die laat reën juis sonneblom wou plant nie. Dit is ’n maklike ding om te plant en dit verhandel maklik op die informele mark. By informele nedersettings kry mens al hoe meer lappies sonneblom – iets wat mens in die verlede nooit gesien het nie.”

Mnr. Jozeph du Plessis, boer van Schweizer-Reneke en ook voorsitter van die sojaboon-en-sonneblomforum, het op ’n forumvergadering ook na die saaddiefstal verwys en gesê in elke distrik is daar seker minstens vier of vyf boere wat deurloop. “Die diewe se werkswyse is baie gesofistikeerd. Talle boere het eerder die saad by hul verskaffers gelaat totdat hulle gereed was om te plant.”

Hy het gesê sover hy weet, was daar min diefstal van mielie- of sojaboonsaad, maar net in sy eie distrik is minstens 1 000 sakke sonneblomsaad by boere gesteel.