Hy sê alle veeartse het toestemming gekry by die Suid-Afrikaanse Veeartsenyraad om steeds hul dienste te lewer tydens die inperking, wat na verwagting tot 16 April sal duur. Dit sluit veral die voorsiening van nooddienste en veemedisyne in. Die Veeartsenyraad het ook die nodige dokumente aan veeartse verskaf sodat hulle vrylik kan rondbeweeg om hul werk te doen.

Odendaal sê die meeste veeboere sal waarskynlik die teelseisoen en gepaardgaande dragtigheidsondersoeke tot ná die inperking uitstel omdat dit vereis dat ’n groot hoeveelheid mense op een slag in ’n spesifieke gebied moet werk.

“Indien daar egter gereël kan word dat minder mense hierby betrokke is, kan dié dienste ook soos normaalweg voortgaan.”

Hy sê veeartse is kenners wat biosekerheidsmaatreëls betref.

“Veeartse is waarskynlik die mense met die meeste opleiding oor die voorkoming en verspreiding van oordraagbare siektes. Ons het baie goeie kennis oor hoe dié siektes oorgedra en watter ontsmettingsmetodes gebruik moet word.” 

Beskikbaarheid van medisyne en veemiddels

Odendaal sê alle praktyke sal oop wees tydens die inperking. Medisyne en ander veemiddels sal by dié praktyke beskikbaar wees.

“Dieregesondheidsmaatskappye se verteenwoordigers sal beskikbaar wees en medisyne sal versprei word. Die inperking van 21 dae is nie ’n lang tydperk nie. Boere wat vooraf die nodige beplanning gedoen het, sal genoeg voorraad hê. Veeartse en medisyne sal egter in noodsituasies beskikbaar wees.”

Odendaal sê daar is gewoonlik hierdie tyd van die jaar (laatsomer en vroegherfs) ’n toename in die hoeveelheid parasiete wat op diere gevind word. Boere moet veral op die uitkyk wees vir bloubosluise, wurms (soos rondewurms), lewer- en maagslakke en siektes wat deur insekte oorgedra word (soos knoppiesvelsiekte).

“Diere moet weekliks ondersoek en behandel word, veral as hulle nie vroeër teen dié siektes ingeënt of daarvoor behandel is nie.”

Hy sê siektes wat deur bosluise oorgedra word, soos rooiwater en galsiekte, sal veral nou voorkom. “Die bekamping van bosluise en die waarneming van diere om hulle betyds teen dié siektes te behandel, moet voortgaan.” 

Tref voorbereidings

Odendaal sê boere moet voorbereid wees.

“Die belangrikste ding wat boere nou sal leer indien hulle nie voorbereid was nie, is om hul werkers op te lei oor daaglikse waarneming. ’n Struktuur en kaart vir die waarneming van diere is beskikbaar. As jou werkers hieroor opgelei is, kan hulle dadelik die eerste tekens van ’n siekte sien en dit deeglik vir jou of die veearts beskryf.”

Hy sê hierdie inligting is veral belangrik wanneer ’n siekte telefonies aan ’n veearts beskryf moet word.

“Die enigste manier waarop ons raad kan gee, is wanneer ons die regte inligting kry by die mense wat met die diere werk.”