“Dieselverskaffing het redelik gestabiliseer, maar is nog nie heeltemal op vlakke waar ons dit wil hê nie,” sê dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die landbousakekamer Agbiz.

“Wat ek daarmee bedoel, is dat volle bestellings nog merendeels nie aan voldoen kan word nie, maar dat bykans alle bedrywighede wel kan voortgaan. Die brandstofpyplyn werk ook beter en daar is geen verdere diefstalvoorvalle waarvan ons bewus is nie.”

Graan SA sê die meeste boere kan voluit stroop. Die organisasie sal binnekort ’n verslag gereed hê oor die verloop van die stroopproses. Dit is oorwegend witmielies wat nog gestroop word.