Dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van die landbousakekamer Agbiz, het ná afloop van die weeklikse vergadering met die SA petroleumbedryfsvereniging (Sapia) gesê die verbetering is bevestig deur groothandelaars wat lid is van Agbiz. Waar die wagtyd om ’n tenkwa in Durban te laai gemiddeld 36 uur was, is dit nou 6 uur.

“Daarby is Sasol se twee binnelandse raffinaderye by Sasolburg en Secunda nou weer op dreef. Op groothandelvlak lyk die situasie baie beter, maar al die gate is beslis nog nie toegestop nie. Daar is nog kleiner verskaffers wat nie voorraad het nie, en daar is nog ’n probleem om brandstof by vulstasies en op plase uit te kry.”

Hy sê die vragmotorbestuurders se staking bemoeilik die situasie weens vrees dat tenkwaens aan die brand gesteek kan word. “Dit maak dit moeiliker om brandstof op kleinhandelvlak uit te kry en die agterstand uit te wis. Ten minste lyk dit darem beter as die vorige klompie weke.”

Purchase waarsku dat boere dalk tot die einde van die jaar onder druk kan wees met dieselvoorsiening. “September en Oktober neem die vraag weer kwaai toe met plantbedrywighede. Wat kan help, is Sapia se versekering dat hy nie net staat maak op ruolie wat plaaslik geraffineer word nie, maar dat diesel en petrol ook ingevoer word.”