Saaddiewe het Sondagaand 25 November by Gerdau en Migdol toegeslaan en altesaam 269 sakke mielie- en sonneblomsaad by drie boere gesteel.

Saaddiefstal in dié provinsie en elders in Suid-Afrika is ’n jaarlikse verskynsel. “Ons is egter nie bewus van saaddiefstal op dié skaal in die verlede nie,” sê mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes.

Mnr. André Pienaar, veiligheidskoördineerder in die Migdol-omgewing, sê 110 sakke sonneblomsaad en 25 sakke mieliesaad is by een boer naby Gerdau gesteel. Dieselfde aand is 78 sakke mieliesaad en 28 sakke sonneblomsaad by ’n boer tussen Delareyville en Migdol gesteel. Altesaam 28 sakke sonneblomsaad is by nóg ’n boer, ook tussen Delareyville en Migdol, gesteel.

“Saaddiefstal kom gereeld voor, veral hierdie tyd van die jaar,” sê Pienaar.

Hy sê een van sy bure het verlede jaar ’n groot hoeveelheid saad verloor nadat saaddiewe sy veiligheidstelsels omseil en van sy skuur se dak af tientalle sakke saad opgekartol en gesteel het.   

R3 000 ’n sak

Volgens mnr. John Rankin, Graan SA se streekverteenwoordiger, is die waarde van elke sak saad wat gesteel is, sowat R3 000. Die verlies in bogenoemde voorvalle beloop dus R807 000.

“By die boer waar die 135 sakke saad gesteel is, is die saad vermoedelik in twee sarsies gesteel om onderskeidelik sowat 02:00 en 04:00. Dit is na bewering alles met een bakkie vervoer. Die sakke moes sowat 100 tree ver gedra word.”

Volgens Rankin word boere genoodsaak om elke aand terwyl hulle plant, die saad en ander nodige insette na veilige plekke te vervoer. “Jy moet selfs die saadbakke leegmaak, anders tap die saaddiewe hulle ook leeg.”

Mnr. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se landelike veiligheidskomitee, sê saaddiefstal vind die afgelope paar jaar toenemend plaas.

“Dit word veral by onbewaakte voertuie gesien. Ons raai boere aan om hul voertuie op veilige plekke te laat staan, veral oornag. Indien dit nie moontlik is nie, is die huur van sekuriteitsdienste ’n ander opsie.”

Esterhuyse sê die diewe verkoop vermoedelik die saad of gebruik dit self.

Die polisie ondersoek tans die onderskeie sake.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.