Die ergste El Niño-weerverskynsel in twee dekades is verby, sê die Australiese Buro vir Meteorologie (BOM).

Dié El Niño het knellende droogtes van Asië tot in Afrika veroorsaak en ‘n spoor van verwoesting in veral Suid-Afrika se somersaaigebiede, maar ook elders in die land tot gevolg gehad.

Die Australiese buro sê die tropiese Stille Oseaan het teruggekeer tot 'n neutrale El Niño-Suidelike Ossillasie (ENSO). Die see-oppervlak temperatuur in die tropiese Stille Oseaan het die afgelope twee weke afgekoel tot neutrale vlakke – te danke aan baie koeler-as-gemiddelde water onder die see-oppervlak.

In die atmosfeer het aanwysers, soos die passaatwinde, bewolktheid naby die Internasionale Datumlyn en die Suidelike Ossilasie-Indeks ook tot neutrale vlakke teruggekeer.

Droogte aan die een kant, oorstromings aan die ander kant

Die El Niño-weerverskynsel is berug daarvoor dat dit gewasproduksie in Asië en Afrika vernietig, met gepaardgaande voedseltekorte soos wat uiterste hitte en droogte aanplantings laat verswelg. Aan die ander kant lei dit tot swaar reën en vloede in Suid-Amerika en dele van Noord-Amerika.

Die buro sê daar is min kans vir 'n terugkeer tot die gevreesde El Niño-vlakke, in welke geval die middel van Mei die einde van die El Niño van 2015/'16 is.

Internasionale klimaatmodelle dui daarop dat die tropiese Stille Oseaan sal voortgaan om af te koel, met ses uit agt modelle wat wys dat 'n La Niña-weerverskynsel geneig is om tydens die suidelike winter vorm aan te neem.

Die buro sê individuele weermodel-vooruitsigte dui op 'n groot verspreiding tussen neutraal en 'n La Niña-scenario.

"Veranderinge in die tropiese Stille Oseaan en atmosfeer, gekombineer met die huidige klimaatmodel-vooruitsigte, wys dat die waarskynlikheid van 'n La Niña-vorming later in 2016 sowat 50% is, wat beteken dat die buro se ENSO-Outlook by 'n La Niña Watch bly," sê die buro in 'n verklaring.