Mnr. Corné Louw, senior ekonoom by Graan SA, wys daarop dat baie kunsmispryse nou op die hoogste vlakke in meer as 24 maande is. Internasionale pryse van ammoniak, ureum en DAP het teen Februarie vanjaar met van 26% tot 75% teenoor die ooreenkomstige tyd verlede jaar gestyg. Plaaslik het die pryse van KAN, ureum en MAP van 28% tot 40% teenoor die ooreenkomstige tyd verlede jaar gestyg. Die prys van kaliumchloried het internasionaal én plaaslik met sowat 7% gedaal.

“Beoogde uitbreidings in aanplantings in die Noordelike Halfrond vanweë hoë kommoditeitspryse het tot ’n hoër vraag gelei. Baie produsente het vroeër en in ’n korter tydperk hul insette begin aankoop, wat die probleem vererger het. Daarby het die ruolieprys se styging ook die produksiekoste van insette soos stikstof, ammoniak en ureum verhoog,” sê hy.

WEER EN SIEKTE

Wat landbou-chemikalieë betref, sê hy vloede in China en ’n orkaan in die New Orleans-omgewing in Amerika het onder meer tot produksieprobleme en tydelike tekorte by groot aanlegte gelei, terwyl Covid-19 ook nog produksie beperk.

Louw se raad aan boere is om vanjaar dalk ’n bietjie te wag voor hulle kunsmis en chemiese middels aankoop. “Die meeste belanghebbendes verwag dat pryse dalk sal afkoel namate die vraag in die Noordelike Halfrond begin afneem en pryse kan verlaag.

“Dit is egter nie ’n gegewe nie. Ruoliepryse wat aanhou styg, kan die koste verder opjaag.”

Volgens Graan SA se opnames het die internasionale pryse vir die vernaamste onkruiddoders teen Februarie ook met van 10% tot 50% teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar gestyg. Die prys van glifosaat het byvoorbeeld met 50,7% gestyg. Internasionale insekdoderpryse het gewissel; sommiges het gestyg en ander het gedaal.

OLIEPRYS

Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB-landbou, gee veral die skerp styging in die olieprys die skuld vir die styging in ander insetkostes.

“ ’n Jaar gelede was die Brent-ruolieprys sowat $27/vat; dit is nou $62/vat – ’n styging van 130% in ’n jaar. Die olieprys was natuurlik laag verlede jaar dié tyd vanweë die effek van Covid-19, maar het sedertdien herstel namate die wêreldekonomie weer begin optel het. Die spanning in die Midde-Ooste en natuurlik die verhouding tussen Amerika en China dra ook by tot hierdie styging.”

Hy sê die wisselkoers speel ook ’n rol, maar tans tel dit in Suid-Afrikaners se guns, want die wisselkoers het versterk oor dié tydperk. Die styging in randwaarde kon dus baie erger gewees het.

Oor wat boere kan doen, sê hy daar is ongelukkig nie veel nie, want boere is prysnemers wat uitgelewer is aan hierdie stygings. Omdat Suid-Afrika só afhanklik van invoer is, is die land nog meer uitgelewer aan internasionale gebeure, en plaaslik kan min gedoen word om stygings te temper.

KOOP SAAM, KOOP SLIM

“Die beste is om slim aankope te probeer doen. Onderhandel vir beter pryse as aankope in groot maat gedoen word. Koop ook saam met ander aan, indien moontlik. Daar is al verskeie aankoopgroepe wat met sukses begin is, juis om afslag te beding.”

Hy sê kostebestuur en goeie beplanning is ook noodsaaklik. “Die tyd van lukrake kunsmistoediening is verby en boere, veral graanboere, behoort presisieboerdery toe te pas. Tegnieke soos minimumbewerking speel ook ’n belangrike rol.”

HOË VERBRUIK

Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, wys daarop dat die verhogings kom in ’n stadium dat die plaaslike landboubedryf ’n tydperk van hoë verbruik van brandstof én kunsmis nader. Vir die winterreëngebied is dit planttyd en vir somergewasse is dit strooptyd wat oor ’n maand of wat sal toeneem.

“Brandstof verteenwoordig gewoonlik van 11% tot 13% van die koste van graanproduksie, terwyl kunsmis sowat 35% van ’n graanboer se insetkoste verteenwoordig. Daarby is dit belangrik om in gedagte te hou dat sowat 81% van mielies, 76% van koring en 69% van sojabone padlangs vervoer word. Gemiddeld is dit 75% van Suid-Afrika se nasionale graan- en oliesade-oeste wat padlangs vervoer word en veral in die oestyd is daar ’n toename in brandstofverbruik.”