Mnr. Hume Schönfeldt van die plaas Heuningneskloof by Caledon sê hulle het klaar kanola aangeplant en sou einde April begin om gars aan te plant. “Ons is al amper halfpad. Die grond werk mooi, dis net ’n bietjie droog. Van die eerste goed wat ons aangeplant het, kom al op.”

Mnr. Dirk van Papendorp van die plaas Voorstekop, Heidelberg, sê hulle het in die laaste week van April 6 tot 8 mm reën gehad. “Dis min, maar met die dik deklaag van strooi is die grond sommer lekker klam onder.”

Party dele in die distrik is volgens hom nog droog en kort goeie reën.

“Ons is mooi op skedule,” sê mnr. Francois Badenhorst van die plaas Jubileeskraal. “Ons plant vanjaar ’n bietjie minder gars aan en het reeds begin om langgroeiseisoen-koring aan te plant. Ek plant elke dag ’n stuk koring aan om die risiko te versprei.”

Hulle het in Maart 30 mm reën gekry en in April net 7 mm. “Ons kan aanplant met dié toestande. Daar is voldoende ondervog, maar dit sal help as ons nou reën kry.”

Boere in die Swartland wat geraadpleeg is, sal eers in Mei begin koring aanplant. Hulle het 26 en 27 April ’n bietjie reën gekry. Die meeste gebiede in die Swartland het reën van enkelsyfers gemeet, terwyl 12 mm by die koppe by Darling gemeet is. Mnr. Cobus Bester van UD Boerdery by Moorreesburg sê die reënval vir April is minder as 25% van die langtermyngemiddeld.

Bester het 1 tot 6 mm gekry. Hul dekgewasse is klaar aangeplant en hulle sal in Mei begin om koring aan te plant.