Hy het die ministers van Handel en Landbou vergesel na dié tweejaarlikse konferensie. Hy sê dit is die gebruik dat die Regering die sameroepers vir sake en arbeid binne die handels- en nywerheidskamer van Nedlac saamneem na die WHO-konferensie. Dit is sodat hulle ingelig kan wees oor die sakelys en standpunte.

John, sameroeper vir sake by Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa), meen begrip vir die ingewikkelde multilaterale handelsonderhandelinge en die rol van die WHO dra beslis by tot gemeenskaplike beleidformulering ten opsigte van handel binne Nedlac. Hy meen die WHO het by ’n kruispad gekom weens die verskille in benaderings tussen die ontwikkelde en ontwikkelende lande. Die ontwikkelende lande meen dat die sogenaamde Doha- ontwikkelingsooreenkoms se raamwerk nie geïmplementeer is nie.

Hulle meen ook dat die ontwikkelingsaspek van handel deur die ontwikkelde lande geminag word. Suid-Afrika het homself baie sterk by die Afrika-groep as ontwikkelende groep geskaar. Daar was blykbaar ’n hele klomp kwessies rondom die landbou, soos uitvoerbeperkings, ondersteuning deur subsidies en handelsversperrings buiten tariewe wat bespreek is. Boonop is glo weinig vordering gemaak met ander kwessies buite die landbou waaroor totaal uiteenlopende standpunte gehuldig is.

Nogtans stem almal saam dat die WHO ’n uiters belangrike rol speel om handel op ’n multilaterale grondslag te reguleer en verskille te besleg. John meen daar moet net nie oorambisieuse doelwitte vir die WHO gestel word nie en dat handelsooreenkomste dalk eerder op ’n bilaterale en streeksgrondslag onderhandel moet word. Hierdie kwessie sal sekerlik ’n besprekingspunt binne Nedlac word.

Bedrywe wat skitter

Terwyl almal asem ophou oor wat op die politieke terrein voorlê, lyk dit darem bemoedigend vir sommige landboubedrywe. ’n Paar van die bedrywe vir wie die vooruitsigte besonder goed lyk, is deur Absa se ekonome uitgesonder. Een daarvan is die avokadobedryf. In Amerika het die pryse met 125% vanaf Januarie tot September verlede jaar gestyg. ’n Verbruiker daar betaal nou maklik R1 200 vir ’n houer met 48 avokado’s.

Ook in Suid-Afrika het gemiddelde pryse vanaf 2011 tot 2016 met 173% gestyg – van R7,20/kg tot R19,64/kg weens die toename in die vraag en die verwagting is dat dié neiging sal voortduur. Elke jaar word 1 000 ha bome plaaslik bygeplant. Verlede jaar se produksie is op 117 000 ton geraam waarvan minstens 52 000 ton vir die uitvoermark bestem was. Karabo Takadi van Absa sê nog ’n bedryf met goeie vooruitsigte is die makadamiabedryf.

Wêreldwyd het die produksie van 178 000 ton in 2016 tot 193 000 ton in 2017 toegeneem met Australië en Suid-Afrika as die grootste verbouers. Sedert 2015 het die internasionale vraag ook aansienlik gegroei. Meer as 25 000 ha is tans plaaslik onder makadamiabome en aanplantings vermeerder teen 3 500 ha per jaar. Karabo waarsku dat Suid-Afrika sy marktoegang tot uitvoerbestemmings sal moet verbeter soos wat produksie styg.

Nog ’n bedryf in ’n soortgelyke bootjie is die pekanneutbedryf waarvan Suid-Afrika ook onder die vier grootste produsente tel. Vanjaar se oes het rofweg 14 000 ton opgelewer waarvan 85% tot 90% uitgevoer is. Uitvoerpryse het in drie jaar ook van R54/kg tot R89/kg gestyg.

Watter kant toe met wild?

Die private wildbedryf stry steeds met amptenare van natuurbewaring en akademici oor die geldigheid daarvan om Khoi-San-tekeninge en die geskrifte en sketse van die ou reisigers te gebruik om die historiese verspreiding van wildsoorte te bepaal. Hulle wil daardie waarnemings gebruik vir wetgewing oor die vervoer en aanhou van wild wat glo nie in sekere gebiede sou aard nie.

Die rede waarom die beweging van wild glo streng beheer moet word, is dat diere wat buite hul natuurlike habitat aangehou word, mettertyd ekologiese skade kan aanrig. Maar wildboere wil nie beperk word oor waarmee hulle boer nie – veral nie as hulle meen dat die redes wat aangevoer word dat sekere soorte wild vreemd is aan ’n gebied, twyfelagtig is nie.

Hulle argumenteer dat die Khoi-San ook maar rondgetrek het en nie lank genoeg in ’n gebied gebly het om ’n getroue weergawe te gee van die wildbevolking daar nie. Ontdekkingsreisigers was ook maar net relatief vlugtig in ’n gebied en het nie altyd die wildsoorte so goed geken nie. Hulle het dalk ’n punt beet en daarby migreer wild ook maar. Neem byvoorbeeld die koedoe en hoe dit oor die laaste 100 jaar of so deur die Kaapprovinsie versprei het.

Twee honderd jaar gelede was hulle onbekend in distrikte waar hulle nou volop is. Daar is selfs tekens dat kameelperde in ‘n stadium in die middel van KwaZulu-Natal voorgekom het. Verder is dit ’n gegewe dat die veld verander het en steeds verander – selfs in die nasionale parke. Dit is nie net weens swak veldbestuur dat grasse agteruitgaan nie, maar ook vanweë klimaatsverandering dat boomgroei bevorder word.

Bosindringing en die vinnige verspreiding in veral die Karoo van soetdoringbome het die habitat in talle gebiede só drasties verander dat dit geheel anders daar lyk as in die vorige eeu. Dit maak groot dele van die land, voer wildboere aan, nou geskik vir wild wat voorheen nie in daardie gebiede aangetref is nie. Dit lyk vir Manie asof die manne eerder moet gaan kyk hoe die veld nou lyk as wat hulle baklei oor hoe dit 250 jaar gelede gelyk het.

Ons deel alles

Die ou boer en sy vrou gaan eet op die dorp en in die plaaslike restaurant bestel hy een standaardhamburger, een pakkie skyfies en een koeldrank. Daarna sny hy die burger in die helfte en sit een helfte voor sy vrou en een voor hom. So deel het ook die skyfies sorgvuldig in twee hopies.

Terwyl elkeen een slukkie koeldrank neem en die glas in die middel plaas. Die res van die mense het gesien wat gebeur en het gedink die paartjie kan net een ete bekostig. Maar toe ’n jong man aanbied om nog ’n ete te koop wys die ou boer dit van die hand en sê net hulle is gewoond daaraan om alles te deel. Terwyl hy rustig eet sit sy vrou net voor haar en kyk en weer kan die jong man nie help om aan te bied om vir hulle nog ’n ete te koop nie.

Hierdie keer antwoord die vrou en sê: “Nee dankie, ons is gewoond daaraan om alles te deel.” Toe die boer klaar geëet het en sy mond met die servet afvee, kom die jong man weer en vra vir die vrou wat nog niks geëet het nie: “Nou hoekom eet Tannie dan nie? Waarvoor wag Tannie?” “Vir die tande!” antwoord sy