Die SOE het reeds in Maart 2018 dié aanbeveling gemaak na afloop van 32 ondersoeke rakende beweerde korrupsie, die misbruik van reis- en verblyfuitgawes, bedrieglike aktiwiteite by die kantoor van die landmeter-generaal in Pretoria en selfs veediefstal.

Die ondersoeke is van 2011 tot 2017 gedoen ná groot gebreke in die beheermaatreëls teen bedrog en wanadministrasie by die destydse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming ontbloot is. Dié gebreke het aanleiding gegee tot reuse-vergrype wat grootliks onder die regering se LRAD-program plaasgevind het.

ONBEWUS

Die LRAD-program het toelaes aan begunstigdes beskikbaar gestel om grond te koop. Hulle was veronderstel om daar te bly en te boer, maar die SOE het bevind dit het in sowat ’n kwart van die gevalle nie gebeur nie. In talle gevalle was beweerde begunstigdes nie bewus van die projek nie, het nooit eens die plaas besoek, daar gebly of gewerk nie, en het ook nie vir toelaes in aanmerking gekom nie.

Luidens die SOE se jaarverslag vir 2016-’17 het sy ondersoeke na beweerde korrupsie en ongerymdhede by die inskryf en verwerking van titelaktes by die aktekantore in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad tot 12 verwysings vir tugverhore gelei. Dié ondersoeke was vir die tydperk Januarie 2008 tot Februarie 2014.

Van Januarie 2006 tot Februarie 2011 het die SOE ook ondersoek ingestel na bedrog, korrupsie en ongemagtigde uitgawes ingevolge die grondhervormingsprogram. In 2016 is plase ter waarde van byna R470 miljoen aan die departement terugbesorg ná dit van korrupte amptenare weggevat is wat met ander partye saamgespan het om die departement te bedrieg. Dié gekonkel het van 1 Januarie 2006 tot 18 Februarie 2011 plaasgevind.

GAAN VOORT

Ná afloop van die ondersoeke wat in 2017 geëindig het, het oudpres. Jacob Zuma die SOE in ’n opvolgproklamasie die mandaat gegee om verder ondersoek in te stel na bedrog wat met grondhervormingsprojekte verband hou. Die SOE sê in sy jongste jaarverslag dié ondersoeke duur voort.

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming dui in sy jaarverslag vir dieselfde tydperk aan sy eie forensiese eenheid ondersoek 46 sake wat strek van beweerde korrupsie en geldelike wanbestuur tot onwettige grondeise.

Teen 31 Maart 2019 het die departement se forensiese ondersoekeenheid 38 ondersoeke voltooi wat gestrek het van bewerings van bedrog en korrupsie tot bedrieglike aktiwiteite. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het teen druktyd nie gereageer op versoeke om kommentaar nie.