Die stem wat sinomiem met dié veiling is, is dié van die afslaer mnr. Deon Klopper, wat vanjaar die 30ste agtereenvolgende keer diens doen.

Klopper is in November 1990 by die diep kant ingegooi toe hy 300 lotte op dié veiling moes opveil.

Sy debuut het gevolg ná ’n braai die vorige aand saam met die toentertydse jong Dorpertelers mnre. Peet Cilliers, Matie le Roux en vele ander. “Met ’n kopseer en sonder pille het my mentor, afslaer Clive Gardner, die mikrofoon in my hand gestop en my gelos om tot sesuur die aand op te tree,” sê hy.

Volgens Klopper lê die Dorperras en die bedryf hom na aan die hart en bedryfsleiers soos mnr. Daan Bosman het hom baie geleenthede gegee waarvoor hy dankbaar is. “Die 30ste agtereenvolgende deelname aan die Upingtonse veiling ontlok steeds dieselfde gevoel soos in November 1990 met toewyding nie net vir die groot telers nie, maar ook vir die verkoper wat laaste op die veilingranglys is.”

Klopper het in 1987 as ’n klerk by Veeboere in KwaZulu-Natal begin werk en binne twee maande tot afslaer op Newcastle gevorder.

Hy onthou met deernis die groot name wat sy pad gekruis het. Een van hulle was mnr. Jimmy Maritz, wat ’n groot invloed op sy loopbaan sou hê. As stoetvee-afslaer by BKB in Bloemfontein het hy te doen gekry met manne soos mnre. Namakwa Dreyer, Tobie Myburgh en Chris Hendriks. “Hierdie was ’n ongelooflike tydperk. Namakwa was ’n legende wat my geleer het om mense te probeer onthou,” sê Klopper. “Jimmy Maritz was die beste bestuurder saam met wie ek ooit gewerk het. Hy was ongelooflik toegewy aan ons as sy span en het ons op die hande gedra.”

Volgens Klopper was die stoetveebedryf aan die einde van die 1980’s baie sterk wat meegebring het dat maatskappye stoetvee-afslaers uitgesoek het. “In daardie era het Vleissentraal oor Mike Killassy beskik. Die afslaers Roderick en Martin in Bloemfontein met Tim Martin, Barry Purdham en Andrew Miller het veral die melkbedryf beheer en later ook die Santa Gertrudis.”

By Karoo Ochse het Klopper saam met mnr. Clive Gardner as stoetvee-afslaer gewerk, iemand wat volgens sy mening een van die heel bestes was. “Clive se beheer was ongelooflik goed en enige jong afslaer kon by hom leer.”

Die rol van die afslaer op ’n veiling kan nie oor die hoof gesien word nie, ten spyte van die digitale omwenteling wat deur die nuwe benadering van aanlyn veilings teweeg gebring is. “Dit sal nooit die afslaer kan vervang nie, maar dit pla my dat die nuwe stelsel jong afslaers geleentheid vir ontwikkeling ontsê,” sê Klopper.