So praat mnr. Igor Teslenko, Europese streekshoof vir Corteva Agriscience, die nuwe landbouvleuel van DowDuPont.

“Dis nou belangriker as ooit om wetenskap en nuwe, innoverende ontwikkelings ten volle te benut,” het Teslenko met Corteva se bekendstelling op die onlangse Fruit Logistica-handelskou in Berlyn, Duitsland, gesê. Hy het bygevoeg dat die landbou swaar sal moet steun op vooruitgang in voedseltegnologie om produksie te verhoog sodat die sektor die groeiende wêreldbevolking kan voed.

Corteva is gebore uit die samesmelting van die landbouchemikaliemaatskappy Dow en die Amerikaanse landboureus Du Pont. Dit funksioneer tans as ’n afdeling binne die nuwe, gekonsolideerde maatskappy, maar dit sal later vanjaar as onafhanklike maatskappy geregistreer word.

Teslenko het gesê hy glo Corteva sal sy regmatige plek inneem as een van die belangrikste insetverskaffers vir die landbou. Die maatskappy sal hom toelê op saad en landbouchemikalieë. Hy het reeds groot handelsmerke soos Pannar en Pioneer onder sy vaandel. “Ons oogmerk is om bekend te staan as ’n maatskappy waarop die sektor kan staatmaak vir gesonde, veilige en volhoubare landbouprodukte.”

Een van die nuwe maatskappy se inisiatiewe is om ’n afdeling op die been te bring wat boere op hoogte sal hou van die nuutste handelsooreenkomste en residuvereistes van regerings reg oor die wêreld. “Ons wil hê ons kliënte moet voordat hulle enige gewas plant, al weet watter vereistes verskillende markte aan hulle gaan stel. Ons wil hulle van advies en produkte kan bedien om seker te maak hulle kry gemaklik toegang tot die markte wat hulle in die oog het,” het mnr. Tom McHale, wat aan die hoof van hierdie nuwe projek staan, gesê.

“Ons doel is om die lewe van die produsent en die verbruiker te verryk, terwyl ons vooruitgang vir die volgende generasies nastreef.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.