Mnr. Piet van Wyk, van die plaas Pritchard in die distrik Bothaville, het Donderdagoggend dié foto’s geneem van die draad om een van sy mielielanderye wat swaar dra aan mieliereste wat teen die drade vasgewaai word. “Die mieliereste klou aan mekaar en hoop meer en meer op. Dermate dat van die drade al hoe papper begin hang.”

Van Wyk sê die verskynsel kom by verskeie van sy mielielanderye voor, “veral weens die winde wat in Augustus hier by ons waai. Ek is seker dit lyk elders in die distrik dieselfde.”

Foto: Piet van Wyk
Foto: Piet van Wyk
Foto: Piet van Wyk

Twee brande het Woensdag in die distrik gewoed, “en soos ons gesels word nog twee brande vandag beveg,” het Van Wyk aan Landbou.com gesê. “Ons hoop regtig die reën wat vir vandag voorspel is, sal val.”

Volgens mnr. Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreelorganisasie vir brandverenigings, word verskeie brande in die provinsie beveg. “Die wind waai op plekke 60 km/h.”

Me. Kumsa Masizana, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê ’n 30%-kans bestaan vir reën in die distrik Bothaville Donderdag en Vrydag. “Die noordelike winde waai vandag gemiddeld teen 40 km/h oor dele van die provinsie, maar die windspoed behoort môre van 15km/h tot 20km/h te wees.”