Altesaam 200 200 werkgeleenthede in die drankwaardeketting was ook in die weegskaal weens dié verbod en Suid-Afrika het bykans R52 miljard aan bruto binnelandse produk verloor. Boonop is die staatskas amper R30 miljard kwyt weens belasting en ’n verdere R8 miljard weens aksynsbelasting wat nie ingevorder kon word nie.

Dít spruit uit ’n nuwe verslag deur FTI Consulting wat die impak van die drie verbiedings op die verkoop van alkohol sedert Maart verlede jaar ondersoek het.

Volgens mnr. Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba (die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging), toon dié syfers dat die prohibisie-maatreëls niks anders as ’n “nasionale maatskaplik-ekonomiese ramp” was nie.

Volgens mnr. Rico Basson, Vinpro se besturende direkteur, het die volume wyn wat plaaslik verkoop is, met 20% geval.

“Die verbiedings het ook ’n verreikende maatskaplik-ekonomiese invloed op ons landelike gemeenskap gehad. Daar was talle werkverliese in die boerderygemeenskap, waar elke werker dikwels na meer as ses afhanklikes omsien.”

Die bedryf is boonop ook geslaan deur die reisverbod, wat wyntoerisme ’n knou toegedien het.

Basson meen die verbod het ’n waardevolle deel van die land se kultuur en ekonomie skade berokken.

Mnr. Lucky Ntimane, sameroeper van die nasionale drankhandelaarsraad, sê die land kan nie hierdie verliese bekostig nie.

“Die regering moet uitvoerbare en beter alternatiewe vind. Ons doen ’n beroep op die regering om met die besorgde belanghebbendes saam te werk om ander doeltreffende maatreëls te vind om die kwessie van alkoholmisbruik op te los en terselfdertyd die lewensbestaan te beskerm van mense wat afhanklik is van hierdie bedryf.”

Basson sê hulle is soos die regering besorg oor die pandemie, maar kan nie ’n algehele verbod ondersteun nie. “Nie as daar alternatiewe, doeltreffende en toegespitste ingrypings beskikbaar is nie.”

Volgens hom wil die wynbedryf ’n maatskaplike verdrag met die regering sluit.

“Die doelwit is om die skadelike gebruik van alkohol te verminder en ’n kultuur van verantwoordelike verbruik te bevorder. Streng teikens vir dinge soos drankvergrype, bestuur onder die invloed en drink onder die ouderdomsperk sal oor die volgende tien jaar ingestel word.”