Pres. Cyril Ramaphosa het met die aankondiging van die jongste vlak 3-regulasies die drie maande vergunning aangekondig. Drankverkope vir wegneem word net van Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 toegelaat. Doeanevrye winkels by lughawens is egter van hierdie regulasies kwytgeskeld en kan drank volgens hul lisensievoorwaardes verkoop.

Restaurante, tavernes en kroeë kan drank verkoop, maar mag dit nie ná 20:00 verkoop nie. Die aandklokreël geld steeds van 22:00 tot 04:00.

Geregistreerde kelders, wynplase, mikrobrouerye en mikrodistilleerders kan weer wynproeë aanbied en alkohol vir wegneem verkoop volgens hul lisensievoorwaardes. Dit sluit naweke in, maar net tot 20:00.

Die drankbedryf sê by monde van die Suid-Afrikaanse drankhandelsmerkvereniging (Salba) dat die staat en besighede nou moet sit en ’n duidelike en volledige pad na ekonomiese herstel moet uitstippel. Dit sal praktiese optredes vereis. 

Verligting, maar nie genoeg

Mnr. Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê die gedeeltelike toelaat van die verkoop van alkohol en die drie maande uitstel op die betaling van aksyns is ’n groot verligting, maar die drankbedryf is glad nie uit die moeilikheid nie. Dit geld veral afsetpunte wat drank vir wegneem verkoop wat net van Maandag tot Donderdag mag sake doen.

Volgens hom is daar geen verduideliking of bewyse vir hierdie besluit gegee nie, ten spyte van die vele versoeke aan die staat om dit te verskaf.

Die verbod op die verkoop van drank in reaksie op die covid-19-pandemie het verwoestende gevolge gehad.

“Daar was geen regverdiging vir die verbod nie, en dit is sonder waarskuwing ingestel. Daar was geen konsultasie nie en swak empiriese regverdiging vir ’n besluit wat wettige besighede, wat verantwoordelik is vir ’n miljoen mense se lewensbestaan, gekeer het om in bedryf te wees.”

Dit sluit besighede in die landbou-, toerisme-, gasvryheid- en vervaardigingsektor in, waaronder duisende klein en mediumgroot ondernemings.

Die drankbedryf wil die wete hê dat hy kan handel dryf sonder dat daar weer ’n verbod op die verkoop van alkohol ingestel sal word. 

Onwettige verkope

Met die onlangse gewelddadige onluste en plundering in KwaZulu-Natal en Gauteng is baie kleinhandelaars en drankwinkels verwoes. Daar word verwag dat sommige permanent sal sluit. Meer as R500 miljoen se drank is gesteel.

Navorsing wat die drankbedryf gedoen het, toon boonop dat die tydelike verbod op die verkoop van alkohol onwettige drankverkope aanvuur. Veral misdaadsindikate se posisie is tydens die verbodtydperke versterk. Volgens mnr. Kurt Moore, uitvoerende hoof van Salba, het die onwettige handel 22% van die totale markvolume in Suid-Afrika bereik, met ’n verkoopwaarde van R20,5 miljard. Dit het die staatskas R11,3 miljard se belastinginkomste gekos.

Hy wys ook daarop dat 248 759 werkgeleenthede regdeur die bedryf steeds nie veilig is nie.

Die drankbedryf het 161 dae se inkomste verloor weens die vier tydelike verbodtydperke van 26 Maart 2020 tot 25 Julie 2021. Sonder om die koste van die drank in te reken wat tydens die onluste gesteel is, het die verbodtydperke die land se bruto binnelandse produk (BBP) ’n geraamde R64,8 miljard of 1,3% van die BBP gekos. Die verlies aan inkomste wat die bedryf weens die verbod op drankverkope gely het, was R45,1 miljard of 15,8% van die geprojekteerde verkope vir 2020 en 2021.

Dit het ook gelei tot ’n verlies aan belastinginkomste, uitsluitend akyns, van R34,2 miljard, terwyl die verlies aan aksyns R10,2 miljard beloop.