Bykans 750 mense het die aanlyn bespreking bygewoon. Die ander sprekers op die paneel was mnr. Richard Rushton, uitvoerende hoof van Distell, me. Ntsiki Biyela, direkteur van Aslina Wines, mnr. Jean Engelbrecht van Rust en Vrede-landgoed, mnr. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, en dr. Neva Makgetla, senior ekonoom by TIPS.

Koste vir bedryf

Volgens Rushton is die bedryf nie ingelig oor die drankverbod voor pres. Cyril Ramaphosa dit op 12 Julie aangekondig het nie. “Ons skat ons het tans ’n surplus van 300 miljoen liter wyn met ’n volgende oes wat op pad is. Dit verteenwoordig ’n hele jaar se plaaslike wynverkope. Dit is moeilik om dié surplus en dan nog boonop ’n drankverbod te hanteer.”

Biyela het gesê die grootste slag vir die bedryf was aan die begin van die inperking toe selfs die uitvoer van wyn nie toegelaat is nie. “Die wynbedryf het intussen sy vastrapplek in die plaaslike mark vergroot, maar enige vordering wat daarmee gemaak is, is nou op ys gesit weens die nuwe drankverbod.”

Engelbrecht het gesê mense het geen rede om wynlandgoedere te besoek nie omdat wyn nie verkoop mag word nie, nie saam met kos by restaurante bedien mag word nie en proelokale ook gesluit is. “Dit lei tot werkverliese en dit is juis die probleem waarmee ons nou sit.”

Basson het gesê die verbod op drankverkope het die wynbedryf reeds R5 miljard gekos en dat dié bedrag tot R7,5 miljard kan styg as die verbod nog ses tot agt weke duur. Hy het ook genoem dat 18 000 werksgeleenthede reeds deur die verbod vernietig is en dat dié getal binnekort kan verdubbel.

“Die bedryf het net begin herstel ná ’n dekade waarin ons ’n derde van ons produsente verloor en ’n ernstige droogte gehad het. Nou het die pandemie ons getref. Ons verloor nou R300 miljoen per week. Hierdie bedrag sluit nie die verliese vir botteleringsmaatskappye en ander besighede verwant aan die wyn- of brandewynbedryf in nie.”

Daar is tans sowat 530 wynprodusente in Suid-Afrika. Sowat 80% van dié produsente is klein produsente met ’n omset van minder as R10 miljoen.

Basson het gesê hy verwys nie meer na ’n krisis in die wynbedryf nie. Hy noem die huidige situasie ’n ramp. “Ons is nie op ’n goeie plek nie. Daar is baie probleme met kontantvloei.”

Regering se motivering

Volgens Makgetla was die regering onder druk om die land na ’n laer vlak van inperking te skuif ná die aanvanklike drie weke wat die inperking geduur het. Die kompromie wat bereik is, is dat die land na ’n laer vlak geskuif is, maar dat ’n drankverbod en aandklokreël ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te beperk.

Sy het gesê die impak van trauma verbonde aan drankmisbruik op die gesondheidstelsel in Suid-Afrika, wat volgens die Wêreldgesondheidorganisasie vyfde op die lys van lande met die meeste drinkers is en ’n probleem met drankmisbruik het, tesame met die aanslag van Covid-19 het die potensiaal om die gesondheidstelsel te oorweldig. “Veral dokters het vir die herinstelling van die drankverbod gevra het.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad was 40% van die 42 000 weeklikse traumagevalle by hospitale alkoholverwant. Die getal weeklikse gevalle het met 65% gedaal gedurende vlak 4 en vlak 5 van die inperking toe drank nie verkoop mag word nie.Makgetla het gesê internasionale data het bevind die meeste mense wat in restaurante of kuierplekke Covid-19 opdoen, word besmet omdat mense weens drankgebruik geneig is om veiligheidsmaatreëls daar te verontagsaam.

“Wat hierdie data vir ons sê, is indien drank vrylik beskikbaar is, is daar meer traumagevalle en die oordrag van die virus vind vinniger plaas. Is die koste vir die samelewing groter as die koste vir die wynbedryf?”

Sy het egter ook gesê dat die aanvanklik verbod op die uitvoer van wyn nie sin gemaak het nie en dat dit in teorie nie ’n probleem is as mense ’n klein hoeveelheid drank gebruik nie. “Covid-19 is ’n nuwe virus. Mense sal foute maak in hul pogings om dit te probeer bestuur.”

Tekort aan polisiëring

Volgens Fridjohn kan niemand daarteen stry dat die verspreiding en impak van Covid-19 bestuur en beperk moet word nie. “Die vraag is nie of ons met inperkingsmaatreëls moet lewe nie, maar eerder hoe ons die skade beperk wat die maatreëls veroorsaak in een van die bedrywe wat die meeste mense in diens neem.”

Fridjohn het gesê net op produsentevlak neem wynprodusente 300 000 tot 400 000 mense in diens. Dit ondersteun verder indiensneming in die toerisme- en vermaaklikheidsbedryf.“Daar is ’n enorme hoeveelheid mense wat sal ly op maniere wat niemand al probeer kwantifiseer het nie. Hoeveel mense sal weens armoede sterf?”

Fridjohn het gesê ’n mens kan nie ontken dat daar veral in sekere areas ’n probleem met drankmisbruik is nie. Volgens hom is polisiëring die beste manier om dié kwessie te beheer. “Die rede hoekom traumagevalle onder vlak 4 en vlak 5 van die inperking afgeneem het, was nie weens die drankverbod nie, want onwettige drank was beskikbaar. Dit was eerder omdat daar meer sigbare polisiëring was.”

Indien jy nie die sessie kon bywoon nie, kan jy dit vir die volgende sewe dae nog aanlyn kyk. Klik hier om die sessie te kyk.